
Vergoedingseise kan kom as die onlangse hofbevel wat jagkwotas van olifante, swartrenosters en luiperds opgeskort het, internasionale jagters nou verhinder om trofeë van olifante wat reeds hierdie seisoen gejag is, na hul onderskeie lande te verskeep.
Die jag van olifante, swartrenosters en luiperds in Suid-Afrika is vir eers van die baan nadat regter Patric Gamble die Humane Society International se Afrika-tak verlede week in die hooggeregshof in Kaapstad gelyk gegee het dat daar nie geleentheid was vir oorlegpleging voordat me. Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, haar jagkwotas vir die jaar in die Staatskoerant afgekondig het nie.
Die wetenskaplike dokumente waarop die minister haar kwotas grond, is nie aan die publiek beskikbaar gemaak nie. Gamble het daarom ’n interdik teen die minister toegestaan wat haar verbied om die jag van 150 olifante, 10 swartrenosters en 10 luiperds toe te laat soos aangekondig in haar kwotas vir die jaar.
Provinsiale departemente is ook verbied om internasionale jag- en uitvoerpermitte vir hierdie drie spesies toe te ken. Dit is hieroor wat jagondernemers nou wonder. Daar is reeds heelwat olifante vanjaar in Suid-Afrika gejag, op grond van die aanvanklike kwota van 150 diere. Hierdie olifante is met wettige permitte van die betrokke provinsiale regerings gejag en nou weet jagondernemers en hul kliënte nie of hulle permitte gaan kry om die trofeë uit te voer nie.
Mnr. Dries van Coller van die beroepsjagvereniging Phasa sê dit is darem net ’n tussentydse hofbevel totdat die hof die wetenskaplike feite waarop die toekenning van die permitte berus, aangehoor het. As die hof dan bevind die kwotas is op suiwer wetenskaplike gronde bepaal, kan die permitte vir die jag van die diere uitgereik word. Hy sê dit sou beteken die finansiële voordele van die jagte is nie verlore nie.
Finansiële impak
Van Coller sê daar is egter reeds ’n finansiële impak. In sommige gevalle het jagters nou hul jagte gekanselleer en moes jagondernemers hul deposito’s teruggee. Wat die jag van swartrenosters betref, sê hy die impak is gering. “Ons jag nie juis swartrenosters in Suid-Afrika nie en wat luiperds betref, is die debat eintlik heelwat groter as die kwota van 10 luiperds.”
Hy sê dat die beroepsjagbedryf nou al jare lank vra vir statistieke oor hoeveel luiperds in Suid-Afrika voorkom. Wat die veebedryf betref, is daar hopeloos te veel luiperds in sekere gebiede, maar Creecy se departement hou vol dat daar so min luiperds is dat die kwota nie vergroot kan word nie.
Dit is dus onmoontlik om ’n ware beeld van Suid-Afrika se luiperdbevolking te kry, want sonder jagpermitte is luiperds niks werd vir veeboere nie, inteendeel, hulle vreet hierdie boere se winste op. Daarom meen Van Coller boere skiet soms luiperds in die stilte net om hul vee te beskerm. Met beter begrip van die werklike luiperdbevolking kan permitte uitgereik word vir sulke probleemdiere en kan hulle ’n inkomste vir die boer en die beroepsjagter verdien.
In hierdie opsig stem jagorganisasies dus saam met die hof: Besluite moet op wetenskaplike gronde berus en nie uit die duim gesuig word nie.