
Luidens ’n kennisgewing wat die departement van omgewingsake op versoek van die nasionale taakspan vir Covid-19 uitgereik het, sal jagters nie toegelaat word om oor distriks-, metro- of provinsiale grense te reis nie.
Mnr. Fred Camphor, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging, sê die probleem is dat die polisie jag as ’n ontspanningsaktiwiteit beskou en jagters dus nie wil toelaat om provinsiale of ander grense oor te steek nie.
Ingevolge vlak 3-regulasies word bestaansjag as wildbestuurdiens toegelaat. Hierdie bepaling en die interpretasie daarvan word volgens Camphor tans deur die regering bespreek. “Ons hoop om teen die einde van die week meer duidelikheid daaroor te hê, maar dit kan ook veel langer kan duur. Uit vorige ervaring het ons al geleer dit dat tot ses weke kan duur om oor so iets duidelikheid te kry.”
Hy sê benewens teenstrydige interpretasies oor die bepaling kan dit ook ’n probleem wees as mense hul gesinne saamneem as hulle gaan jag. “Mense moet die regulasies en aanwysings volg soos dit uiteengesit is. As ’n voertuig voorgekeer word, moet almal in die voertuig daar wees omdat hulle gaan jag. Hulle moet ook die nodige permitte hê. As mense kies om te jag, moet hulle dit met diskresie doen.”