Die 6.5 mm of .264 is een van daardie kalibers wat om verskeie redes baie goed is. Dit blink uit in kompetisies en die 6.5 mm-koeël met sy hoë seksionele digtheid en goeie ballistiese koëffisiënt vaar veral baie goed op lang afstande. Dit lewer ’n goeie trajek en word minder deur wind van koers gedruk.
Soos met die meeste dinge in die lewe is daar by geweerkalibers bitter min nuut onder die son, en dit is ook die geval met die 6.5 mm. Waarskynlik is die 6.5 x 53R Mannlicher (1891), wat deur Nederland én Roemenië as militêre kaliber gebruik is, die oudste van die klomp. Volgens Frank C. Barnes in Cartridges of the World was die militêre lading ’n 156 gr- of 159 gr-koeël teen 2 433 vps.
Die 6.5 x 55 Sweedse Mauser is reeds in 1894 bekend gestel. Selfs in sy militêre gedaante met ’n 139 gr-koeël teen 625 vps was hy omtrent net 100 vps stadiger as die baie gewilde 6.5 Creedmoor met dieselfde gewig koeël. Daar is ook nog die 6.5 x 54 Mannlicher-Schoenauer, die 6.5 x 50 Arisaka uit Japan, 6.5 x 57 Mauser, 6.5 x 52 Italiaanse Carcano en les bes die 6.5 x 58 Portugese Mauser.