Ses Indiane byt met een skoot van hierdie merkwaardige geweer in die stof as John Wayne, alias die Duke, koel en kalm sonder fanfare op bloeddorstige hordes in ’n cowboy-fliek aanlê. Met ’n goeie perd, ’n .30-30 in die saalskede, ’n Colt Peacemaker aan die sy en ’n Stetson op die kop was geen gevaarlike uitdaging te groot nie.
Toe die .30 Winchester Centre Fire- (WCF) patroon in Augustus 1895 deur Winchester vir sy ’94-hefboomaksie-geweer bekend gestel is, was dit die eerste rookvrye jag- en sportskietpatroon van sy tyd. Die benaming het gou verander na die bekende .30-30 toe ander geweervervaardigers soos Marlin die patroon aangeneem het. Die bykomende -30 verteenwoordig die standaardlading van 30 grein sellulosenitraat of rooklose kruit wat destyds vir die 160 g-punt gebruik is.
Ná 125 jaar is die .30-30 steeds een van die top-vyf gewildste jagkalibers in Noord-Amerika. Die meeste moderne kalibers is kragtiger en skiet platter, maar vir die doel waarvoor die .30-30 aangewend word, is daar min wat by hom kan kers vashou. Fabrieksammunisie word deesdae meesal met 150 gr (2 350 v.p.s.) en 170 gr (2 160 v.p.s.) punte gelaai, wat dit by uitstek ’n bosveldkaliber maak vir skote nie verder as 200 m nie.