Covid-19 en ander dinge het telkens ons beplanning in die wiele gery, maar uiteindelik kon ons weer die langpad vat. Ek kom al sedert 1975 bykans elke jaar in Namibië en kan nie onthou wanneer laas ek die wêreld só mooi gesien het nie.
Deur die Karasberge kon ek beswaarlik my oë op die pad hou, want so ver soos jou oog kan sien, het die lang goudgeel gras langs die pad uitgestrek tot teen die berge. Die gemsbok wat Koot twee weke voor ons koms geskiet het, se biltong het amper gelyk soos dié van ’n bees met ’n stewige vetlaag.
Dit was nog lekker klammerig en van die lekkerste wat ek al geëet het. Om van die grootpad op die plaas te kom, is 4x4-wêreld en die Amarok het rustig die klipsteiltes uitgestap. Nadat almal gegroet het, stap ek na die toegemaakte stoep.