
Die fees sal van Vrydag 24 Junie tot Sondag 26 Junie sy terugkeer maak in Kirkwood in die Sondagsriviervallei in die Oos-Kaap.
Die baie gewilde Kirkwood-wildsveiling word op Vrydag 24 Junie by die Mayogi Bomas buite Kirkwood aangebied word met Brandon Leer wat as afslaer sal optree. Kopers kan self by die veiling gaan bie of aanlyn op die SwiftVee-veilingsplatform.
Volgens die organiseerders sal ’n verskeidenheid spesies by die veiling aangebied word, met veral manlike diere wat nou in aanvraag is by jagters.
Volgens die feesdirekteur, me. Jenni Honsbein, het gereelde feesgangers reeds laat weet dat hulle baie opgewonde is om weer die Karoo-lug te kan kom geniet.
Mnr. Alan Stapleton, bestuurder van borgskappe en ontspanningsgeleenthede van Spar Oos-Kaap, sê hy is ook verheug oor die terugkeer van die wildsfees. “Ná twee lang isolasiejare is ons opgewonde om die Spar Kirkwood-wildsfees te kan ondersteun. Ons verwelkom alle gesinne op hierdie fees wat gesinsvermaak en samesyn vier.”
Die fees bied vermaak vir die hele gesin, met verskeie opvoedkundige uitstallings, vertonings en kunstenaars wat vermaak verskaf aan oud en jonk, en ’n wye verskeidenheid kosstalletjies.
Sanparke, tesame met die Oos-Kaapse Parke-en-toerismeagentskap, sowel as ’n Noord-Kaapse byeboer sal ook by die fees uitstal om só klem te plaas op omgewingsbewaring.
Van die grootste motor-, landbou- en buitelugmaatskappye sal ook op die fees ’n draai maak.
Die wildsfees sal aan die regering se covid-19-protokol voldoen volgens die huidige regulasies, maar besoekers hoef geen intentingsertifikaat of negatiewe PCR-toets saam te bring nie.
Kaartjies kan aanlyn of by die hekke gekoop word en beloop R200 vir volwassenes en R100 vir skoliere.
Besoek die webwerf https://www.wildsfees.co.za/ vir nog inligting oor die program en kaartjies.