
Die verwysing na diere se welsaligheid in die nuwe witskrif vir die bewaring van biodiversiteit en volhoubare gebruik is ’n fout wat potensieel rampspoedige gevolge vir natuurbewaring kan inhou, sê die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging.
Dié organisasie het ’n beroep op me. Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, gedoen om die verwysing na “well-being” uit die nuutste weergawe van die witskrif te verwyder.
Soos dit tans staan, sê die vereniging in ’n verklaring, ken die term well-being menslike eienskappe aan diere toe wat dan vir diere aanspraak gee op dieselfde regte as mense. Eienaars van wild sal dus diere se geestesgesondheid en sielkundige gebalanseerdheid saam met hulle fisieke welsyn moet verseker.
Die vereniging maak dit duidelik dat hy in die breë die nuwe witskrif oor biodiversiteit verwelkom en sê dit het ’n holistiese en sinvolle benadering tot biodiversiteit, maar waarsku dat die konsep van diere se welsaligheid probleme met toepassing gaan veroorsaak.
Definisie
Die definisie vir diere se welsaligheid spruit waarskynlik uit die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit (Nemba) se hersieningsproses waar aanvaar is dat die holistiese omstandighede en toestand van ’n dierebevolking bevorderlik moet wees vir hul fisieke, fisiologiese en geestesgesondheid en lewensgehalte.
In ’n brief aan Creecy waarsku mnr. Fred Camphor, die vereniging se uitvoerende hoof, dat die verwysing na welsaligheid tot hofgedinge tussen haar departement en verskeie belanghebbendes in die wildbedryf kan lei, van diereregtegroepe tot voorstanders van benutting.
Uit ’n regsoogpunt kan die term well-being met betrekking tot diere die deur oopmaak vir debatte wat die belangrikheid van menseregte teenoor diereregte afspeel. Dit is veral relevant in situasies waar konflik tussen mens en dier heers soos waar gemeenskappe langs reservate woon waar gevaarlike diere hul veiligheid bedreig.
“Dit is ook absurd om te dink dat die geestesgesondheid en lewensgehalte van sprinkane wat totale oeste vernietig, in ag geneem moet word voordat dit met insekdoders bestry word,” sê Camphor.
“Dieselfde geld die sogenoemde welsaligheid van olifante en roofdiere. Ons aanvaar dat sommige diere oor waarnemingsvermoë beskik, maar ’n mens kan steeds nie met ’n wilde dier redeneer wat menselewens bedreig nie.
“Net so min kan jy met ’n hoender gesels oor sy sielkundige gereedheid om jou aandete te word. Dit is dus duidelik dat die welsaligheid in die konteks van die definisie van die Nemba nie ’n term is wat mens op diere van toepassing kan maak nie.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.