Nadat een van die Waterberg se jaglegendes, mnr. Poem Lamprecht, in 2016 vermoor is, is ’n plaaswag gestig wat die Matlabas Custodians sou word. Vandag is dit ’n gemeenskapsnetwerk wat te midde van Covid-19 ’n sleutelrol speel in die welstand van mense in dié deel van Limpopo.
Ons boere het die afgelope paar jaar baie swaargekry, sê me. Lizelle Lamprecht, boervrou en woordvoerder van die Matlabas Custodians. Dié organisasie sonder winsoogmerk het sowat vier jaar gelede ontstaan. Haar man, Pieter, het saam met ’n groep wildboere die plaaswag begin uit besorgdheid oor die veiligheid en welstand van inwoners van die Waterberg tussen Thabazimbi en Lephalale.
Soos boere reg oor Suid-Afrika het gemeenskappe in dié noordwestelike deel van Limpopo nog gesukkel om op hul voete te kom ná die ergste droogte in 100 jaar en twee uitbrekings van bek-en-klouseer toe die Covid-19-pandemie toegeslaan het.