Die aktuele artikel “Tyd ryp vir vars aanslag oor renosters” (LBW, 17 Desember 2022) beskryf die benarde posisie waarin vrylopende en ander renosters nou is, maar gee nie die rede daarvoor nie en brei nie uit oor die ongelooflike welvaart wat renosterboerdery deur die verhandeling van die horings vir Suid-Afrika kan skep nie.
Die wettiging van handel in renosterhoring sal duisende werkgeleenthede skep en ongekende inkomste vir Suid-Afrika beteken. Die renoster sal die mees ekonomiese plaasdier met die grootste inkomste wees.
Tans is renosters byna waardeloos. Die Crous-broers se veiling sowat twee maande gelede het dit bewys. ’n Renosterkoei met ’n kalf het gesukkel om R100 000 te haal. Sowat 15 jaar gelede was die prys van ’n koei met ’n kalf R400 000, maar dit het stelselmatig gedaal namate die risiko vergroot het.