
Nadat honderde renosters die afgelope jaar in die Krugerwildtuin onthoring is, het stropers hul visiere na private reservate verskuif, sê mnr. Piet Warren, wildboer en renostereienaar van Gravelotte in Limpopo.
Warren sê dit het vir stropers harde werk geword om ’n renoster wat nog nie onthoring is nie, in die Krugerwildtuin op te spoor. Daarom soek hulle nou makliker jagvelde en loop selfs plekke soos die Wes-Kaap en Botswana deur.
Die afgelope maand is afgekom op meer as 24 karkasse van renosters wat in private reservate gestroop is, berig Netwerk 24.
Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die private renostereienaarsvereniging (PROA), sê renosterstropery het die afgelope jaar met 10% toegeneem nadat dit met die streng inperkingsregulasies in 2020 byna onder beheer was.
Jones sê dit is omdat renosters in staatsreservate al hoe minder raak. Van die 394 renosters wat verlede jaar gestroop is, is net 37 op private grond geskiet. Omtrent 60% van Suid-Afrika se renosters is in private besit.
SANParke sê in ’n verklaring dat meer as 60% van Krugerwildtuin se renosters sedert 2013 gestroop is. Vroeër vanjaar was daar net 3 529 witrenosters en 268 swartrenosters in die park oor.
Jones het aan Rapport vertel dat van die reservate se personeel met spesifieke voorvalle verbind word en hy het bygevoeg dat omkopery van personeel by private en staatsreservate ’n algemene gebruik by stropers is.
Mnr. Richard York van Wildbedryf SA sê die probleem is dat daar geen wettige monetêre waarde vir mense aan renosters gekoppel kan word nie. Selfs waar personeel aandele in die toerismebesighede het, sien hulle nie dat renosters vir hulle dieselfde waarde kan ontsluit as die omkoopgeld wat stropers in ruil vir inligting bied nie.
Warren sê renosterhoring verhandel tans in Mosambiek teen omtrent R100 000/kg. In Viëtnam, waar die meeste horings wat in Afrika gestroop word eindig, behaal renosterhoring $150 000/kg. “Dit is rofweg R2,3 miljoen per kilogram.”