Me. Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het onlangs ’n verslag deur ’n hoëprofielpaneel van kundiges bekend gestel nadat dit deur die parlement goedgekeur is. Die verslag handel oor beleid, regulatoriese maatreëls, praktyke en beleidsposisies ten opsigte van die jag, handel, aanhouding en bestuur van olifante, leeus, luiperds en renosters in Suid-Afrika.
Dit word deur die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging en die beroepsjagsorganisasie Custodians of Professional Hunting and Conservation SA verwelkom. Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) en die land se ander beroepsjagvereniging, Phasa, is egter minder optimisties oor van die doelstellings en aanbevelings in die verslag.
Voorstelle in die verslag oor leeus en renosters in private besit is veral omstrede vir wildboere. Dit is juis na aanleiding van ’n beraad wat in 2018 deur die portefeuljekomitee vir omgewingsake gehou is om oor die teel van leeus in aanhouding te praat, dat die parlement die komitee aangesê het om beleid en wetgewing te formuleer wat dié praktyk beëindig.