
Die strategie en toepassingsplan vir ’n formele wildsvleisstrategie is vandag deur me. Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, in die Staatskoerant gepubliseer.
Wildboere en ander belanghebbendes het nou 30 dae om kommentaar te lewer op dié voorstel.
Creecy sê in ’n verklaring dat die strategie daarop gemik is om ’n formele, florerende en getransformeerde wildsvleisbedryf op die been te bring wat kan bydra tot voedselsekerheid en sosio-ekonomiese groei. Sy sê om belegging in die wildsvleissektor te ontsluit en om markte – plaaslik en internasionaal – te ontwikkel, moet die bedryf getransformeer word. Tans, sê Creecy, is die wildsvleisbedryf net ’n uitvloeisel van die jagbedryf en funksioneer dit op ’n informele en gefragmenteerde wyse. Sy meen baie min groepe wat geskiedkundig benadeel is, neem op noemenswaardige wyse aan die bedryf deel.
Creecy se verklaring verduidelik dat daar groot stukke kommunale grond in Suid-Afrika lê wat geskik is vir vlaktewild en wat geleenthede inhou vir gemeenskapsondernemings om sosio-ekonomiese ontwikkeling te bewerkstellig.
Mnr. Peter Knipe, ’n Senepol-teler, wildboer van Bray en stigter van die wildprodusentevereniging (WPA), sê dit klink vir hom of Creecy vergeet dat só ’n vleisbedryf oor baie meer as net die oes, verwerk en verkoop van wild gaan. Dit gaan ook oor die gesondheid van die vleis, naspeurbaarheid en biosekerheid. “Ons moet oppas dat ons nie ’n bush meat-bedryf vestig ten koste van ’n formele bedryf met enorme inkomstepotensiaal vir wildboere nie,” sê hy.
Knipe, wat in 2016 instrumenteel was in die lysting van 12 wildspesies as landrasdiere onder die Veeverbeteringswet van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (Wet 62 van 1998) en drie jaar later daarin geslaag het om nog 33 wildspesies onder dié wet geregistreer te kry, het reeds vroeër gesê Creecy tree buite haar mandaat op. Wildsvleis, wat hom betref, is ’n landbouproduk en val dus onder die vaandel van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.
Dr. Maretha van der Merwe, adjunkdirekteur van munisipale gesondheidsdienste in Tshwane, werk al vir jare saam met die wildbedryf om werkbare oplossings vir die bemarking van wildsvleis daar te stel. Sy sê die vraag na wildsvleis oorskry tans die aanbod en slaghuise in en om Pretoria wat geïnspekteerde wildsvleis kan verkoop, verdien tans R79 tot R117 per kilogram. Die plaasprys vir wildboere wissel van R23 tot R30 per kilogram.
Na haar mening sal die beste moontlike stap nou wees om konsepregulasies vir die hantering van wildsvleis – wat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling reeds in 2016 vir kommentaar bekend gemaak het – toe te pas. “Al die werk is reeds deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die departement van gesondheid gedoen om ’n stelsel te verseker wat veilige, gesonde vleis vir die verbruiker beskikbaar sal stel. Dit maak dus sin dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, eerder as dié van omgewingsake, wildsvleisproduksie reguleer.”
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dit was nog altyd dié organisasie se standpunt dat wildboerdery onder die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se mandaat moet val. “Wild en wildsvleis is tog ’n kommoditeit wat op landbougrond deur boere geproduseer word. Baie van die regulasies wat die aanhou en bestuur van wild op natuurreservate rig onder die departement van omgewingsake, maak nie sin vir kommersiële wild nie. Dit bemoeilik net die wildboer se werksaamhede onnodig,” sê Van Zyl.
Hy wys ook daarop dat baie wildboere ook met beeste boer en dat hulle dan volgens twee departemente se reëls op dieselfde grond moet probeer boer.