
Dis tyd dat partye wat hulself met die ware jagbedryf vereenselwig, na vore tree en hande vat met haar departement om die “outentieke ervaring” van jag te definieer en saamwerk met die ontwikkeling en toepassing van nuwe standaarde, het me. Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, op jaarvergaderingsdinee van die beroepsjagliggaam Custodians of Professional Hunting and Conservation South Africa (CPHCSA) gesê. Sulke jagters moet saam met haar departement geleenthede vir groei van die bedryf identifiseer.
Die minister het gaste verseker dat haar departement nie teen jag gekant is nie, maar met verwysing na die verslag van ’n groep hoëprofielkundiges wat vroeër vanjaar uitgereik is, gewaarsku dat sommige praktyke sal moet verander.
Die verslag maak spesifiek melding van voorvalle en persepsies rondom onverantwoordelike, onetiese en onvolhoubare bewaringspraktyke in die bestuur, teel, jag, handel en hantering van olifante, leeus, luiperds en renosters en sê dit skaad Suid-Afrika se reputasie as wêreldleier in bewaring.
Creecy het gesê die paneel se bevindinge was nie teen jag nie, maar het die noodsaaklikheid beklemtoon dat Suid-Afrika hom herposisioneer en bemark as ’n voorkeurbestemming vir wettige, gereguleerde en verantwoordelike jag van hierdie spesies.
“Hoewel ons geleidelike herstel sien, bly ons bekommerd oor die impak wat aanhoudende vlae van die pandemie op die wildbedryf het,” het Creecy gesê. “Daarom is dit belangrik dat ons saamwerk om hierdie kwessies te oorbrug.”