
Die rau-kwagga is ’n skaars sebra-subspesie. Bewaringskundiges het in 1987 ’n ambisieuse projek op dié wynplaas begin om ’n dier te teel wat so na as moontlik aan ’n kwagga lyk. Die kwagga is in die tweede helfte van die 19de eeu tot uitsterwing gejag en die laaste bekende merrie het in 1883 in die Amsterdam-dieretuin gevrek.
Vergelegen, wat bekend is om sy omgewingsprogramme, sê die vulletjie is op 14 Desember ná ’n dragtigheidstydperk van 12 maande gebore en dit is ’n mylpaal in die kwaggaprojek. Die vulletjie is ongesteurd gelaat om bande met die sewe ander kwaggas te smee en sy of haar geslag is nog nie bepaal nie.
Mnr. Eben Olderwagen, omgewingsprojekbestuurder by die 323 jaar oue landgoed, sê die vulletjie lyk ontspanne en is as deel van die trop aanvaar. “Dit het in ’n maand sowat 15 cm langer geword en benewens om aan sy of haar ma te drink, het die vulletjie ook al aan lusern geknibbel.”
Kwaggas was korter en stewiger as die suidelike vlaktesebras. Hulle het ’n vaalbruin vel met swart merke gehad, teenoor die wit vel en swart merke van die ander vlaktesebras. Kwaggas het gewoonlik net strepe op die kop, nek en voorste gedeelte van hul liggaam.
Die kwaggas by Vergelegen is in Mei verlede jaar van Pampoenvlei in die Atlantis-Darling-omgewing soontoe gebring en leef nou in ’n reservaat van 180 ha met welige natuurlik weiding, ’n mengsel van renosterbos, Boland-granietfynbos en verskeie grassoorte.
Olderwagen sê die Vergelegen-bestuur hoop dat die stigterstrop op die plaas verder sal aanteel en ná sowat twee jaar sal uitgesoekte kwaggas met ander in ander programme uitgeruil word. Dit sal gedoen word om inteling te voorkom en as deel van die strewe om kwaggas te teel wat so na as moontlik aan die oorspronklike spesie is.
Besoekers kan op ’n begeleide wildrit op die plaas na die kwaggas gaan kyk. ’n Mens moet vir só ’n rit bespreek.