Sy was ’n hoofspreker op die onlangse Suider-Afrikaanse Wildlewebestuurskongres. Bewaringsverwante misdaad is niks nuuts in Suid-Afrika nie. Gore het gesê sedert wetgewing al in vorige eeue ingestel is, word natuurlike hulpbronne onwettig gebruik – of misbruik.
Die huidige omvang daarvan is egter ongekend en neem skrikwekkend toe. Hoogs doeltreffende misdadige netwerke is reg oor die wêreld bedrywig, in só ’n mate dat hul doen en late groot risiko’s inhou vir die omgewing, die ekonomie, gesondheid en selfs persoonlike veiligheid.
Ekostelseldienste gaan verlore, en in sommige streke sterf spesies plaaslik uit. Die onwettige optrede verminder belastinginkomste vir die staat, en verklein dividende op beleggings in die natuur.