
’n Mens wonder wat Britte dink gaan gebeur as daar nie meer jagters is wat bereid is om te betaal vir die voorreg om die aanwas in wildgetalle op private en openbare jagkonsessies in Afrika te bestuur nie, sê mnr. Dries van Coller van die Suid-Afrikaanse beroepsjagtersvereniging (Phasa).
Die Britse regering het in die doodsnikke van 2021 sy voorneme aangekondig om ’n verbod te plaas op die invoer van jagtrofeë van bedreigde spesies na Brittanje. Die omgewingsgroep All Parliamentary Group on Banning Trophy Hunting bearbei die parlement al sedert die leeumannetjie Cecil in 2015 deur ’n Amerikaanse tandarts in Zimbabwe gejag is om jagtrofeë uit Brittanje te hou.
Hoewel dit in oorsese media lyk of die koeël deur die kerk is, sê Van Coller daar moet nog baie water in die see loop voordat so ’n voorstel ’n wet word. Hoewel Britse jagters eintlik ’n klein rol in die Suid-Afrikaanse jag-ekonomie speel, meen hy die hele jagwêreld moet sterk teenstand bied.
“Dit is ’n sielkundige domino wat val wanneer so ’n verbod ingestel word. Dit bring mense onder die vals indruk dat hulle ’n verskil in dierewelstand maak wanneer hulle sulke beperkings deurgevoer kry. Die werklikheid is dat dit wildspesies van hul waarde stroop en die einde van bewaring in ’n gebied kan veroorsaak.”
Hy sê mense in stede is dikwels verwyder van die werklikheid en besef nie hoe noodsaaklik die inkomste uit trofeejag vir landelike gemeenskappe is nie. “Ons land is vol honger mense en as daar nie vir hulle waarde in die bewaring van wild in hul omgewing is nie, sal hulle eerder vee op daardie grond laat wei.”
Gewere vs kameras
Diereregte-aktiviste hou egter vol dat fototoerisme die antwoord is en dat dit genoeg inkomste en werksgeleenthede kan skep. ’n Studie wat in 2018 deur die private natuurreservaat Timbavati gedoen is, bewys die teendeel. Die inkomste wat die reservaat uit 46 jagters in 2016 verdien het, het 61% tot die totale inkomste bygedra en die 24 000 fototoeriste wat die reservaat daardie jaar besoek het, se totale bydrae was maar 17%.
Die bewaringstariewe vir ekotoeriste wat die reservaat besoek het, het in 2018 drasties verhoog en ’n beter balans kon gehandhaaf word tussen die inkomste uit jag en toerisme. In hierdie jaar was daar net 21 000 fototoeriste en 21 jagters en danksy die duurder tariewe het toeriste vir 51% van die reservaat se inkomste gesorg.
Trofeejag bly egter ’n integrale deel van die reservaat se finansieringsmodel. In 2019 sou die totale inkomste uit twee trofee-buffels aan buurgemeenskappe geskenk word.
Almal is verbruikers
Van Coller wys daarop dat sulke statistieke nog nie die omgewingsspoor van die twee soorte besoekers verreken nie. “Dink aan al die water wat nodig is vir 24 000 toeriste, die etes wat voorberei moet word en die hoeveelheid rommel wat uit die veld verwyder moet word. Daar is ook aansienlik meer voertuie wat in die veld rondbeweeg waar ekotoerisme die hoofbedryf is teenoor jag.”
Hy maak dit duidelik dat hy nie teen fototoerisme gekant is nie, maar wel teen argumente wat die ware impak daarvan ignoreer om dit as “beter” vir volhoubare benutting voor te hou. “Albei aktiwiteite is nodig vir die suksesvolle finansiering en bestuur van ons natuurlewe.”
Hy sê Phasa het hierdie argumente duidelik in ’n brief aan die Britse parlement verwoord, maar tot op hede nog geen terugvoer gekry nie.