Sy plan van ’n teenstropingseenheid wat net uit vroue bestaan en boonop ongewapen is eers met skeptisisme begroet, maar dié Swart Mambas het al hul waarde bewys.
Toe stropers se eerste skote 14 jaar gelede begin klap en aasvoëls al hoe meer bo verminkte renosterkarkasse in die Laeveld kolk, het mnr. Craig Spencer, ekologiebestuurder van die Olifants-Wes-natuurreservaat langs die Krugerwildtuin, geweet daar is ’n oorlog op hande.
Hy het ook geweet dat die gevegsfront baie wyer as die slagveld in reservate sou wees. “Hoewel stropers die hoofvyand was, was die oorlog teen die langtermyn- maatskaplike verval van die gemeenskap en die vals ekonomie wat gebou word met geld wat deur stropery bekom is.