
Betheul Mdubane, ’n 35-jarige sekuriteitswag van die Lapalala-natuurreservaat naby Marken in Limpopo, is effektief 24 jaar tronkstraf opgelê nadat hy in die hooggeregshof op Polokwane skuldig bevind is aan klagte van moord, renosterstropery, die onwettige besit van ’n vuurwapen, onwettige besit van ammunisie en die besit van gesteelde goedere.
Mdubane het sy makker, Primar Salazar Maluleke, vier keer in die bors geskiet nadat hulle glo stry gekry het oor die verdeling van die geld vir die twee renosterhorings wat hulle in die reservaat gestroop het.
Netwerk 24 berig dat dié twee deel van ’n sindikaat van renosterstropers was. Hulle sou glo R1 miljoen vir die renosterhorings betaal word. Nadat hy Maluleke geskiet het, het Mdubane voorgegee dat Maluleke ’n stroper was wat hy vasgetrek het.
Die waarheid het egter op die lappe gekom toe sy meisie vir die onwettige besit van gesteelde goedere, onwettige besit van ’n vuurwapen en onwettige besit van ammunisie in hegtenis geneem is en as staatsgetuie teen hom getuig het.
Nog ’n makker en medesekuriteitswag van Mdubane, Ebony Mokoena (32), is skuldig bevind op aanklag van opsetlike saakbeskadiging. Hy is aanvanklik vir dieselfde misdade as Mdubane aangekla, maar daar was nie voldoende bewyse teen hom nie.
’n Dag ná Mdubane is Thembi Juliegirl Mangane (37) in die streekhof op Skukuza tot 16 jaar agter tralies gevonnis vir haar aandeel in ’n renosterstrooptog in die suide van Krugerwildtuin in 2019.
Mangane en haar twee makkers is in hegtenis geneem kort nadat sy hulle en hul buit buite die wildtuin opgelaai het. Polisie het die voertuig deursoek en onder meer ’n jaggeweer, twee renosterhorings en ’n saag gekry.
Die drie is van renosterstropery, onwettige besit van ’n vuurwapen, onwettige besit van ammunisie, sameswering tot misdaad en die onwettige besit van ’n gevaarlike wapen aangekla. Mangane se makkers, Matsinye Joao Sithole en Vasco Tibane, het dadelik skuldig erken en is gevonnis, maar Mangane het onskuld ontken. Sy is skuldig bevind op al die aanklagte teen haar.
Genl.maj. Zeph Mkhwanazi, waarnemende polisiekommissaris van Mpumalanga, sê hy hoop die swaar vonnisse laat mense twee keer dink voor hulle in die stropers se voetspore volg.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.