
Die Vergelegen-landgoed by Somerset-Wes is nou die trotse eienaar van sewe Rau-kwaggas, ’n groep sebras wat ’n selektiewe teelproses ondergaan het om te lyk soos die suidelike vlakte-kwagga, ’n subspesie waarvan die laaste een in 1883 in die Amsterdam-dieretuin dood is.
’n Bevolking van vlakte-sebras is ingespan om die gene te verkry vir die kwaggas se kenmerkende velpatroon. Die naam Rau-kwaggas is ter nagedagtenis van mnr. Reinhold Rau, ’n taksidermis, wat in 1987 met die projek begin het en dood is voor dit voltooi is.
Mnr. March Turnbull, direkteur vir die kwaggaprojek, verduidelik dat die kwagga van ander sebras verskil deur normaalweg net strepe op die kop, nek en voorste deel van die lyf te hê. Hulle rûe is meer bruinerig as wit, en die maag en bene is wit sonder strepe. “DNS-ontledings het getoon dat die kwagga nie ’n aparte sebra-spesie op sy eie is nie, maar ’n subspesie van die suidelike vlakte-sebra (Equus quagga).”
Dit het die selektiewe teelproses moontlik gemaak om die bevolking te teel wat visueel baie nader aan die oorspronklike kwagga-bevolking lyk as enige ander vlakte-sebra. Die uitgestorwe kwaggas het lank terug in groot troppe in veral die Karoo en suidelike dele van die Vrystaat voorgekom, maar is teen die tweede helfte van die 19de eeu heeltemal uitgejag.
Die sewe Rau-kwaggas by Vergelegen is ’n hings, vyf merries (waarvan vier dragtig is) en ’n vul wat van Pampoenvlei in die Atlantis-Darling-gebied gebring is. Hulle word in ’n reservaatgebied van 180 ha gehou saam met vyf elande wat ook deel is van ’n navorsingsprojek oor hoe ekostelsel-verskeidenheid kan baat vind by diere op natuurlike weiding.
Mnr. Eben Olderwagen, omgewingsbestuurder by Vergelegen, sê die verskuiwing van die kwaggas het fyn beplanning geverg. Permitte moes bekom word. Weens die gevaar van stres by die kwaggas moes ’n koel, windstil dag gekies word om die diere se verdowing vanuit ’n helikopter te vergemaklik. “Dit was ook moeilik om die veearts, vlieënier en al die ander kundiges by die verskuiwing op die regte dag byeen te kry, maar 10 Mei was toe só ’n dag en alles het suksesvol verloop.”
Vergelegen is geleë in een van die mees blomryke streke ter wêreld waarvan 1 900 ha tot ’n natuurreservaat, met dieselfde status as die Krugerwildtuin, verklaar is nadat alle uitheemse plante oor ’n tydperk van 14 jaar teen 2018 verwyder is.
Die kwaggas sal in die toekoms deur besoekers gesien kan word as deel van die landgoed se ekologiese wildbesigtingsritte. Daar word gekyk na die moontlikheid om ander spesies wat natuurlik in die gebied voorgekom het, soos swartrenosters, Kaapse buffels en seekoeie, ook daar te hervestig.
Lees meer oor:
Vergelegen se ekologiese projekte by: https://vergelegen.co.za/nature/
Die kwaggaprojek: https://www.quaggaproject.org/