
Vier verdagtes is in hegtenis geneem kort nadat vier renosters verlede week op die private wildsreservaat Inverdoorn in die Wes-Kaap geskiet is.
Luidens ’n verklaring op die reservaat se Facebookblad is die inhegtenisnemings te danke aan mnr. Wayne Stoltz, ’n forensiese ondersoeker wat ook ’n stroping in 2011 by die private wildsreservaat Aquila help ondersoek het, asook onder meer die polisie, CapeNature en private ondersoekers.
Mnr. Searl Derman, eienaar van die Aquila Collection waarvan Inverdoorn deel uitmaak, sê luidens die verklaring die inhegtenisnemings het plaasgevind kort nadat die voorval aangemeld is. Nuus oor die inhegtenisnemings is vir eers stil gehou ter wille van die ondersoek.
Luidens die verklaring sê sers. Wesley Twiggs, polisiewoordvoerder, dat die vier verdagtes in die Ceres-landdroshof aangekla sal word.
Derman sê hulle hoop daar is genoeg bewyse teen die verdagtes en dat hulle nie op borgtog vrygelaat sal word nie. “Almal werk steeds dag en nag om ons saak te versterk en te verseker dat reg en geregtigheid geskied.”