
Wildboere is bekommerd dat die beheer wat me. Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, vir haar ministerie toe-eien in ’n nuwe witskrif vir die bewaring van biodiversiteit en volhoubare gebruik op die onteiening van hul wild en selfs hul plase kan uitloop.
Die witskrif wat op 8 Julie in die Staatskoerant gepubliseer is, sal, as dit wet word, die oorkoepelende beleid word oor 17 stukke wetgewing waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (Wet 107 van 1998 Nema), die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit (Nemba) en die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede (Nempaa).
Die doelstelling van die witskrif is om oorkoepelende beleidskonteks te skep vir wetgewing oor en die regulering van biodiversiteit om duidelikheid te bring oor die manier waarop die bewaring van biodiversiteit en volhoubare benutting benader word. Volgens die witskrif moet die basis hiervoor die Grondwet en die beginsel van ubuntu wees, en dit moet geslagsgelykheid voorop stel.
Die witskrif se inleidende opsomming sê dit streef ook om die aspirasies en behoeftes van Suid-Afrikaners met ’n vars aanslag en konteks-gerig met ’n plaaslike begrip aan te pak.
Dit streef na doeltreffende transformasie van die biodiversiteitsektor en gelyke maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling gegrond op die land se ryk biodiversiteit.
WRSA sê egter die minister probeer ’n witskrif wat al in 1997 in die hek geduik het, laat herleef en sy wil dit gebruik om ander omgewingswetgewing te ondermyn.
Eiendomsreg
Vir dié organisasie flikker daar gevaarligte in voorstelle wat die witskrif maak vir groot, uitgestrekte wildsareas waar drade tussen plase laat sak word, en ook in ’n spesifieke verwysing na eiendomsreg.
Volgens artikel 11.3.2.4 van die witskrif lê ’n groot deel van Suid-Afrika se biodiversiteit in private besit en daarom moet die eiendomsklousule in die land se Handves van Regte in die konteks van die witskrif oorweeg word. Volgens die witskrif het die staat histories die gesag om die manier waarop eiendom, insluitend biologiese hulpbronne, bewaar en gebruik word te reguleer.
Daar word dan verwys na ’n bepaling in seksie 25 (1) van die Grondwet wat lui dat vergoeding vir eiendomsreg slegs nodig is wanneer dit onteien word. Die witskrif wys daarop dat daar geen melding van vergoeding gemaak word wanneer regte net ontneem, maar nie onteien word nie en sê die regering is dus by magte om regulasies op eiendom in te stel om die bewaring en volhoubare gebruik van biodiversiteit te bereik.
Mnr. Richard York, WRSA se uitvoerende hoof, sê dit is niks anders as onteiening sonder vergoeding nie.
’n Ander model
Die organisasie se voorsitter, mnr. Gerhard Heyneke, het in ’n onderhoud met Landbou Radio gesê die witskrif se verwysing na groot bewaringsgebiede waar drade tussen plase laat sak is, is strydig met die boerderymodel wat die wildbedryf tans toepas.
Hy meen dat van die praktyke wat die witskrif as oplossings voorhou, selfs die land se biodiversiteit in gedrang kan plaas en wys spesifiek na die probleme wat sulke groot gebiede sonder heinings ten opsigte van biosekerheid kan meebring. “Ons het reeds probleme met bek-en-klouseer en vir die wildbedryf is heinings ’n baie belangrike manier om biosekerheid op ons plase te handhaaf.”
Mnr. Emile Honiball, ’n omgewings- en regskonsultant wat tans besig is met ’n studie oor hoe besitreg van biodiversiteit in verskillende lande vertolk word, sê hy het begrip vir die wildbedryf se bekommernisse, maar wys daarop dat die witskrif ook goeie elemente bevat.
“Ons hele bestaan is geskoei op funksionele ekostelsels wat moontlik gemaak word deur ons biodiversiteit. Die staat kan dus nie anders as om bewaring van ons biodiversiteit ter wille van die hele bevolking te prioritiseer nie.”
Hy gee toe dat dit die balans tussen regte bemoeilik en sê mens moet versigtig wees om die groot rol wat die wildbedryf in die bewaring en vermeerdering van wildspesies in die land gespeel het, te misken. Daarom is dit belangrik dat die staat en private sektor mekaar vind en oplossings vir hierdie vraagstukke kry.
Die publiek kan tot 10 September kommentaar op die witskrif lewer en kan op WRSA se webwerf aan ’n petisie vir die onttrekking van die witskrif deelneem.