
Op die vooraand van die verslapping van Suid-Afrika se staat van inperking na vlak 4 hoop wildboere dat daar nog ’n bietjie ruimte vir ekonomiese aktiwiteit sal wees wanneer die relevante ministers (omgewingsake en landbou) hul riglyne bekend maak.
“Ons hoop dat dit vandag beskikbaar gestel sal word,” het me. Adri Kitshoff-Botha, uitvoerende hoof van Wildbedryf SA (WRSA), op Donderdag 30 April in ’n skrywe aan dié bedryfsliggaam se lede gesê.
Die regulasies vir vlak 4 wat deur me. Thoko Didiza, minister vir landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming bekend gestel is, maak voorsiening vir alle landboubedrywighede, jag, bosbou, (kommersiële) visvang en byeboerdery. Dit sluit die voorbereiding, verbouing, oes en opberging van landbouprodukte in, asook die vervoer van lewende hawe en die hou van veilings (onderhewig aan higiënemaatreëls). Werk aan landbou-infrastruktuur en dienste soos navorsing, inspeksie, sertifisering en gehaltebeheer mag ook hervat word.
Kitshoff-Botha sê die WRSA het die vorige naweek reeds voorstelle gemaak rakende jag en handel in lewende wild. “Ons vertrou dat dit in ag geneem sal word in die riglyne.”
Hoewel etlike wildspesies ingevolge die Diereverbeteringswet (Wet 62 van 1998) as landrasdiere geregistreer is en dus onder die departement van landbou val, word jagpermitte en vrystelling van wildsplase wat wildwerend omhein is, asook die vervoer en hervestiging van wild ingevolge die Wet op die Bestuur van Biodiversiteit (Nemba, Wet 10 van 2004) deur die departement van omgewingsake gereguleer.
“Ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die inperkingsmaatreëls na vlak 4 verlig sal word, het ons onmiddellik begin werk aan voorstelle aan ministers Creecy (me. Barbara Creecy) en Didiza,” sê Kitshoff-Botha. “Ons het spesifiek gekonsentreer op die oes van wild deur jag en die handel in lewende wild met spesifieke verwysing na veilings, verkope en verskuiwings.”
Sy sê die WRSA kan egter nie in isolasie optree wanneer dit kom by die aanpak van kwessies in die Suid-Afrikaanse wildbedryf nie. Nadat die organisasie sy idees oor moontlike handel in die wildbedryf neergeskryf het, het hy aan gesprekke en elektroniese gespreksforums deelgeneem met al die ander lede-organisasies van Hawasa, ’n forum vir jag- en wildbedryfverenigings van Suid-Afrika, asook ander bedryfsliggame.