
So het dr. Johan Kriek, ’n wildboer en veearts, aan boere gesê tydens die Glenconnor-boerevereniging se landbou-inligtingsdag wat met die samewerking van Die Kooperasie aangebied is.
Volgens Kriek het daar nie ’n borrel in die wildbedryf gebars nie. Die mark is eerder oorversadig weens die klem op die teling van skaars wildspesies oor die afgelope 30 jaar.
“Wanneer jy ’n Suid-Afrikaanse boer ’n aartappel gee, sal hy die mark oorstroom, want ons het baie goeie boere. Wanneer daar geld is om te maak, klim ons in. Ons het die mark versadig met die teel van skaars spesies en nie die res van die wildbedryf bevorder nie.”
Die wildbedryf bestaan uit vier pilare: jag, teel, toerisme en vleisproduksie. Volgens Kriek is die wildboere wat nou met die daling in pryse sukkel, dié wat nie in die ander pilare van die wildbedryf belê het nie.
Hy het gesê dit is dus nou belangrik om in die ander pilare te belê en daar is baie geleenthede. Daarby is teelmateriaal steeds ’n goeie belegging. “Neem byvoorbeeld ’n koedoekoei wat jy vir R2 000 aankoop, en wat uiteindelik ’n bul gee wat van R12 000 tot R25 000 werd is vir die trofeejagter.”
Hy het gesê ’n denkskuif oor teling is nodig en wildboere moet besef dit gaan nie net oor die teel van sekere diere nie.
Volgens Kriek het die bedryf in 2018 begin stabiliseer en was daar positiewe groei in 2019.
Verandering
Hy het gesê die jagbedryf speel ’n groot rol in die bewaring van wild. Kriek, oorspronklik van Zimbabwe, het in 1984 met wild begin boer toe daar slegs 200 tot 300 wildboere was, teenoor die nagenoeg 10 000 wildboere van vandag.
Voor 1960 was daar ongeveer 600 000 stuks wild in Afrika. “Toe was wild ’n las en is hulle gesien as siektedraers.” In die afgelope 27 jaar het die getal egter toegeneem tot 18 miljoen stuks wild.
Volgens Kriek is verskeie dierespesies danksy die wildbedryf van uitwissing gered. Dit sluit die swartwitpens in waarvan daar in die 1950’s slegs 450 diere oor was, teenoor 20 000 vandag. Twee jaar gelede was daar slegs 230 bastergemsbokke in nasionale parke. Nou is 6 000 van dié diere in private besit.
Kriek het baanbrekerswerk in die wildbedryf gedoen en was onder meer die eerste private invoerder wat skaars wildspesies in Suid-Afrika hervestig het. Van die spesies sluit in die swartwitpens, bastergemsbok en die Lichtenstein-hartebees, wat oorspronklik van Malawi kom.
Suid-Afrika het vandag sowat 10 000 wildplase wat oor 20 miljoen ha strek. Dié gebied kan na verwagting teen 2025 tot 30 miljoen ha toeneem vanweë ’n inisiatief wat deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken is om die gebied onder wildboerdery te laat toeneem.
Die land se nasionale parke beslaan sowat 6 miljoen ha, en huisves sowat 6 miljoen stuks wild.
Die wildbedryf, wat jag vir trofee en biltong, teel en die verkoop van wild insluit, se waarde staan tans op sowat R30 miljard per jaar. Trofeejag alleen beteken R2 miljard se inkomste vir Afrika per jaar, met biltongjagters wat sowat R6,2 miljard bestee.
“Ons moet besef dat biltongjagters geld het om te bestee en dat dit deel is van ons kultuur.”
Die Noord-Kaap skep die grootste inkomste en die hoofmarkte is Amerika en Denemarke.
Die drie wildsoorte wat die meeste geld inbring, is die buffel, swartwitpens en koedoe.
Kriek het gesê dit is veral interessant om op te let dat Kenia jag in die 1970’s verbied het en intussen het dié land 85% van sy wild verloor.