
Die wolmark het te midde van ’n baie klein aanbieding redelik glansloos op vandeesweek se veiling vertoon en Cape Wools se Merino-aanwyser met ’n geringe 0,4% teruggesak tot R102,84/kg (skoon).
In Australië het die aanwyser ook laer gesluit. Volgens berigte verkeer die binnelandse mark in China onder druk met die nuwe regering en verbruikers wat huiwerig is om geld te bestee. Volgens ontleders het dit tans ’n uitwerking op sakevertroue in die woltekstielsektor, wat weer tot laer bestellings op kort tot medium termyn lei.
Die gemiddelde koers van die rand teenoor die dollar het min verandering teenoor verlede week getoon. Die rand was 0,7% laer teenoor die Amerikaanse dollar.
Dit was ook die kleinste aanbieding dié seisoen en net 3 958 bale is aangebied, waarvan 96% verkoop is.
Die pryse vir die verskillende mikrontipes het gewissel, maar die fyner tipes het redelike dalings aangeteken, terwyl van die sterker wol se pryse gestyg het.
Die gemiddelde skoonwolpryse van enkele lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg: 18 mikron daal met 0,4% tot R108,75, 19 mikron verswak met 4,8% tot R105,45/kg, 20 mikron was 0,8% duurder op R106,12/kg, 21 mikron styg met 1,8% tot R104,88/kg en 22 mikron verstewig met 1,5% en sluit op R103,40/kg.
Geen veiling is vir volgende week geskeduleer nie weens die openbare vakansiedag. Veilings hervat weer op 8 Mei wanneer sowat 11 500 bale aangebied sal word