
Ondanks faktore wat ’n demper op die winsgewendheid van wolskaapboerdery plaas, is daar nog baie wind in dié bedryf se seile.
Die relatief hoë wolpryse het nou ook na die primêre bedryf oorgespoel en daar is ’n goeie vraag na teelmateriaal.
Daar is ’n tinteling te hoor in die stem van mnr. Petrus de Wet, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), as hy uitgevra word oor die vooruitsigte vir die wolbedryf in 2011. Hy is pas terug uit Europa waar hy verwerkingsaanlegte in Brittanje en Italië besoek het.
Hy meen die pendulum het weer in die rigting van natuurlike vesels geswaai. Die feit dat kleinhandelverkope ná die wêreldwye resessie van die afgelope twee jaar ook aan die verbeter is, dui daarop dat Jan en alleman se besteebare inkomste verbeter het.
“Met die ysige winter in die Noordelike Halfrond kan verbruikers dit bekostig om ’n ekstra paar euro te bestee aan die groot verskeidenheid wolklere wat oral in winkels te sien is,” sê hy.
Hoewel hy teleurgesteld is oor die skerp daling in plaaslike wolpryse aan die einde van November 2010, meen hy dit is eerder weens ’n gebrek aan mededinging op die Suid-Afrikaanse veilings as weens ’n verswakking in die vraag na wol, aangesien pryse in Australië nie in dieselfde mate gedaal het nie. Op die laaste veiling van die jaar het die mark egter herstel en met 3,7% gestyg.
“Ons was met die begin van die seisoen erg bekommerd oor wat die uitwerking van die Chinese verbod op die invoer van ons vetwol weens Slenkdalkoors in die land gaan wees. Die mark het egter teen alle verwagting skerp gestyg.”
De Wet sê die sterk teenwoordigheid van China op die plaaslike mark is iets wat hom nog altyd bekommer het. “Sodra hulle meer as 40% van ons wol koop, is ons potensieel aan hulle uitgelewer. Dit was in 2002 ook die geval toe hulle weens bek-en-klouseer die rug op Suid-Afrikaanse wol gedraai het.
“Die goeie nuus is dat ’n Italiaanse wolkoper sy wolverwerkingsaanleg na Egipte gaan skuif. Die aanleg, wat teen April in bedryf gaan wees, sal baie vir die Suid-Afrikaanse wolbedryf beteken. Die eienaar het te kenne gegee dat hulle in die aankope van 19 mikron tot 22 mikron wol gaan spesialiseer om hul Europese mark te voorsien.”
3 Januarie 2011