
Suid-Afrikaanse wyn is goed gevestig in Nederland en Wyn Suid-Afrika (Wosa) wil met sy nuwe bemarkingstrategie op dié sukses voortbou. Dié organisasie beoog om Suid-Afrikaanse ikoon- en landgoedwyne in die kollig te plaas.
“Tans word Suid-Afrika te sterk in die mark vir onder €2 verteenwoordig, en hoewel dit in die Nederlandse mark vir €5 tot €8 goed vaar, het die land nog nie sy volle potensiaal in die middelprysmark ten volle verwesenlik nie. Hier bestaan nog steeds baie geleenthede wat plaaslike produsente kan benut,” sê me. Su Birch, Wosa se uitvoerende hoof.
Dié bemarkingsprogram vloei uit navorsing wat deur mnr. Cees van Casteern, wynadviseur, namens Wosa, en mnr. Arend Heijbroek , landbousakespesialis van Rabobank Internasionaal, gedoen is. Volgens hul verslag is Suid-Afrika die grootste Nuwe Wêreldse wynverteenwoordiger in Nederland en word slegs deur Frankryk geklop.
Suid-Afrika se uiteenlopende wynproduserende gebiede, wynstyle en kulture sal deur die “Verskeidenheid is in ons natuur”-veldtog beklemtoon word. Die volhoubaarheid en bewaringselemente van die plaaslike bedryf sal ook aandag geniet. Die veldtog word deur me. Annette Badenhorst gelei.
1 September 2009