
Die eerste kommersiële veiling van die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini, is op Saterdag, 5 November, in samewerking met die KwaZulu-Natalse (KZN) departement van landbou en landelike ontwikkeling gehou.
Die veiling het by die Enyokeni koninklike paleis in Nongoma in die noorde van KZN plaasgevind en altesaam 118 beeste is te koop aangebied, waarvan 74 verkoop is.
Volgens mnr. Cyril Xaba is hierdie veiling ’n poging om ’n kultuur van kommersiële boerdery in die kommunale gebiede te laat posvat. “Een van die departement se oogmerke vir die hervorming en transformasie van die landbou, is om boerdery in ’n wetenskap en besigheid te verander. Hierdie veiling in die kommunale gebied is ’n bewys dat dit gedoen kan word,” het Xaba gesê.
’n Nguni-bul wat vir R14 000 verkoop is, het die hoogste prys op die veiling gehaal, terwyl 7 Nguni-koeie vir R50 000 verkoop is. Daar was ook 16 Boran-koeie op die veiling te koop aangebied, maar dit is nie verkoop nie.
“Dit was verblydend om die hordes jong swart boere by die veiling te sien. Veilings is een van die plekke waar inligting en kundigheid uitgeruil kan word en waar die gaping tussen die opkomende en kommersiële sektore verklein kan word. Die aktiewe wyse waarop die jong swart boere by hierdie veiling betrokke geraak het, bewys dat daar ’n blink toekoms vir die landbou in KZN bestaan,” het Xaba gesê.
Die departement beoog om hierdie veiling as ’n jaarlikse instelling te vestig waarby ander boere ook betrokke kan raak.