’n Oponthoud van tot 20 minute vir filterherstelwerk kan ’n kalkstrooiery onnodig uitrek. ’n Bredasdorpse saaiboer het ’n vragmotorlugremtenk aangepas om binne minute klaar te speel met ’n verstopte trekkerfilter.
Alle saaiboere wat kalk op lande moet strooi om die grondbalans reg te kry, weet landboukalk gee ’n baie fyn stof af. Dié kalkstof dring oral in, ook in die trekker se lug- filter wat die strooier sleep. Die stof kan die filter só verstop dat die trekker tot stilstand gebring word. Mnr. Lafras Venter, ’n saaiboer van Bredasdorp, het ’n filterskoonblaser gemaak wat ’n trekker se filter binne sekondes skoonblaas.
Venter, van die plaas Tweedam, doen ook werk vir medeboere in die Overberg, waaronder kalkstrooi op landerye waar graan en ander gewasse geplant gaan word. Die tydrowende skoonmaakproses het voorheen 15 tot 20 minute geduur met ’n rubberpyp wat aan ’n kompressor gekoppel word. “Omdat ek dikwels teen tyd werk, het dit my baie gepla dat soveel tyd verspil word.”