Toe die Oos-Vrystaatse melkboer mnr. Wilhelm (Bokkie) du Toit sy hoofvertakking moes sluit, was een van die werktuie waarmee hy ’n winsgewende bestaan vir hom en sy drie seuns, Hendri, Wikus en Wilhelm jr., kon verseker ’n kompakte skotteleg wat vandag met werktuie uit Duitsland, Swede, Frankryk, Tsjeggië, Pole en Turkye meeding.
Die 66-jarige Du Toit bou al jare lank werktuie. Hy en Hendri het in 2016 hul eie kompakte skotteleg begin bou toe hulle sien wat die “astronomies hoë aankoopprys” van eweknieë was.
“Die BOK.I-reeks het een van die aggressiefste, beproefde snyhoeke op die mark. Dit is ’n paar grade wyer as die algemene markstandaard van 17 grade. Net soos sy Europese eweknieë het dit ’n onafhanklike, rubbergeveerde skottelarm en onderhoudsvrye verseëlde laer,” sê Wikus (foto bo).