Die kleinveehanteringstelsel het as ’n boereplan op die plaas Olywenfontein naby Aliwal-Noord ontstaan. Vandag is dit ’n suksesvolle kommersiële onderneming wat ’n stewige bydrae tot die Joubert-familieboerdery lewer.
Mnr. Ben Joubert se belangstelling in tegnologie en die verfyning van verskuifbare toerusting om skaapwerk in die veld te vergemaklik, het gelei tot die ontwerp van die iClamp. Dit is dus geen wonder dat die iClamp se leuse “werk slimmer, nie harder nie” is nie.
Ben, wat saam met sy pa, Bush, en broers, Egbert en Jacques, met Merino’s en Sussexe boer, het op die internet begin snuffel en YouTube-video’s gekyk oor veeldoelige toerusting om kleinvee met die minste arbeid en in die kortste tyd te hanteer.