
Toe die koue die MacDonalds met ’n paar hande vol hanslammers laat, is daar vinnig ’n plan beraam vir ’n staalafskorting waarin al die lammers gelyk kan suip. Dié gebore entrepreneurs het die geskikte hoogte volgens die ras bereken, bekostigbare bababottels gekoop en met ’n pennetjie vasgeheg. Boonop maak dié gesin musiek terwyl die lammers lustig suip.
Ná ’n koue front die MacDonalds van Alexandria in die Oos-Kaap onverwags met tien hanslammers gelaat het, was dit vir dié gesin eerder ’n geleentheid vir ’n kreatiewe oplossing as ’n probleem. Volgens mnr. Frikkie MacDonald het die temperatuur op die koudste dag in middel Julie by 2 °C gaan draai, wat uitsonderlik koud vir dié gematigde omgewing is.
“Die koue was verskriklik en ons het vir die eerste keer die skape in die stal laat slaap. Gewoonlik slaap hulle onder ’n lig in ’n kraal. Toe die diere in die donker stal beland, was dit vir hulle meer om te hanteer as gewoonlik en die ooie het hul lammers weggegooi,” sê Isabel, Frikkie se vrou.
Frikkie, wat onder meer ornamente en artikels maak vir die Oakly-padstal op die R72 wat die egpaar besit en bestuur, kon vinnig ’n melkkroeg ontwerp en in sy werkwinkel aanmekaarsweis. Danksy dié plan kos dit nou twee minute of minder om al die lammers melk te gee. “Ons kon dit omkeer van ’n amperse nagmerrie tot waar ons nou baklei oor wie die lammers moet laat suip!” sê Frikkie laggend.
Boonop was hul kinders, Nadia en Morné, weens die inperking op die plaas en almal kon inspring om te help.
Die MacDonalds boer onder meer met Dorpers om vleis te verskaf vir gesogte geregte soos skaapvleispasteie en gortsop by hul padstal. Die skape word aangehou op kikoejoeweiding en word elke aand na die kraal gebring. ’n Alarm keer dat die diere gesteel en geslag word.
Só werk die STRUKTUUR
Die twee hokke waar die lammers suip, is gemaak van vierkantige en staafmetaal. Elke hok het vyf afskortings sodat elke lam afsonderlik kan suip. Melkbottels pas in ’n houer wat aan die raamwerk vasgesweis is. Om te voorkom dat die lammers die bottels uit die houer stamp, is ’n pen aan die agterkant van die bottels ingedruk.
Volgens Frikkie het hy volgens die grootte van ’n lam gekyk watter hoogte en wydte die beste sal werk. “Sommige mense wil weet hoe hoog die hokkie moet wees, maar dit sal van ras tot ras verskil. Ek het gaan kyk op watter hoogte die lam gemaklik suip en die bottel op ’n spesifieke hoogte gebou om dit te toets, en die hokkie se mates daarvolgens beplan.
“Die ooi se uier bly op dieselfde hoogte en dit is dus nie nodig om die bottel hoër te verstel soos die lam ouer word nie. Die lammers kniel eenvoudig,” voeg Morné by.
Die lammers kry drie keer per dag gewone beesmelk. Volgens Isabel het baie mense hulle aangeraai om glasbierbottels te gebruik, maar hulle het sommer melkbottels by Pep gaan koop. “Dit maak dit maklik om te sien hoeveel melk die lammers suip.”
Danksy twee handvatsels weerskante van die melkkroeg is dit maklik verskuifbaar.
Volgens Nadia moet hulle die lammers fyn dophou om te keer dat hulle uit die hokkies kruip om melk by die ander te gaan “steel”. Frikkie wil gevolglik ’n hefboom agter elke hokkie voeg om te keer dat die lammers ontsnap as hulle klaar gesuip het en by die lam langsaan se hokkie gaan indruk.
Herstel van die droogte
Die MacDonalds is ná die droogte besig om hul Dorperkudde op te bou. “Ons het ’n ses jaar lange droogte beleef. Die hartseerste is dat ons baie van ons teelmateriaal moes verkoop. Die nadeel van die droogte is dat jou buurman nie by jou kan koop nie, want hy het ook nie kos nie. Jy kan jou skape ook nie abattoir toe stuur nie. Dan kom iemand van ver om jou beste diere uit te kies.”
Frikkie maak graag musiek en hy en Morné haal soms die konsertina en kitaar uit terwyl die lammers suip. “Aangesien die kroeë gedurende die inperking gesluit was, het ek maar vir die ‘melkkroeg’ gespeel!”
Volgens Frikkie maak hy van kleins af musiek. Hy speel graag by troues of in die padstal of vanuit die sleepwa wanneer hy pynappelsap by feeste verkoop.