Suid-Afrika kan dit nie bekostig om nié aandag te gee aan karoolandskappe wat agteruitgegaan het nie. Die probleem is groot en ekoloë en bewaringslui weet nog nie regtig hoe om die beskadigde ekostelsels te herstel nie, het drs. Sue Milton en Richard Dean op die jaarlikse konferensie van die forum oor die ekologie van droë gebiede (Azef) gesê.
Milton en Dean besit en bedryf Renu-Karoo, ’n veldherstelmaatskappy en kwekery op Prins Albert. Daar word wel wyd en syd probeer om stelsels wat agteruit gegaan het, te herstel.
’n Mate van sukses word behaal, maar dit is ’n opdraande stryd, veral omdat saadontkieming en groei in sulke droë eko- stelsels op min en wisselvallige reën moet staatmaak.