
Dit is ’n anderste soort radioterapie wat rooikat se kind verjaag en die afgelope vyf jaar gesorg het dat lamverliese weens roofdiere kortgeknip is. En die geheim is die regte balans tussen musiek en geselsprogramme snags . . .
Die boereplan van mnr. André Kirsten, Swartlandse koring-, kanola- en wynboer wat ook ’n veevertakking het, het die beoordelaars van die boereplankompetisie op Nampo Kaap só beïndruk dat ’n spesiale prys van R4 000 aan hom toegeken is.
Sy plaas, Oranjefontein, naby Darling loop nes ander skaapplase deur onder roofdiere, soos rooikatte, wat lammers vang. Die afgelope vyf jaar het Kirsten nog nie ’n enkele lam aan roofdiere verloor nie danksy ’n radio wat snags speel. Die battery word bedags met sonkrag herlaai.
Hy het sowat 1 400 Dohne-Merino-ooie wat veral met lamtyd snags kwesbaar is. Die belangrikste element van dié sonaangedrewe radioskaapwagter is die stasie waarop hy ingestel is, meen Kirsten.
Deur waarneming is gevind dat daar net één radiostasie is wat die roofdiere doeltreffend weghou, en dit is RSG op 100-104 FM. “Ons het verskillende radiostasies probeer, en gevind dat die programme wat snags deur RSG aangebied word, ’n goeie verskeidenheid gee van praat en musiek. Rooikat se kind raak nie daaraan gewoond nie. Die tipe musiek is ook van so ’n aard dat dit nie die skape ontstig nie.”
Volgens Kirsten raak die ooie die rooikatverjaer se radiospelery en geselsprogramme gou gewoond en sal hulle en hul lammers sommer reg onder die kas gaan lê.
Kragbron, waterdigte luidsprekers
Hierdie plan wat hy beraam het om rooikatte te verjaag, spruit uit die vernuf van een van sy kuddebestuurders, mnr. Basie van Zyl, wat waargeneem het hoe die roofdiere wegbly as sy radio snags by die lamkamp speel. Destyds moes Van Zyl saans van trop tot trop ry om die radio te gaan opstel en aan te sit, en soggens weer die radio gaan afsit. “Die PM-batterye was egter chronies pap en het ’n finansiële las begin word.”
Kirsten het intussen van die “radioskaapwagter” se kinkels een vir een begin uitstryk en ’n volwaardige boereplan bedink. “Ek het by mnre. Paul Pienaar van Pienaar Elektries en Sakkie Bredell en sy span van Automodell op Darling gaan aanklop vir hulp. Die idee was dat die radio snags moet speel van sononder tot sonop. Daarvoor is ’n liggeaktiveerde skakelaar ingebou. Die radio self is ’n motorradio. Die luidsprekers moet genoeg woema hê om lekker hard te kan speel, sonder om in die reën of slegte weer die gees te gee. Die oplossing was om waterdigte luidsprekers wat gewoonlik op bote geïnstalleer word, te gebruik.”
Die kragbron is van gewone batterye verander na ’n groter motorbattery (12 V) wat bedags met ’n fotovoltaïese sonpaneel herlaai word. Dit is ’n veel doeltreffender en uiteindelik goedkoper manier om die radio snags te laat speel, sonder vrees dat die battery gaan afloop.
Om beskerming teen die weer te bied en die diefstal van die motorradio en batterystelsel te voorkom, is ’n staalkas met slot aangebring waarin alles netjies pas. Omdat diefstal van sonpanele algemeen is, is daar ook ’n meganisme geïnstalleer wat dadelik met Kirsten in verbinding tree indien die eenheid beweeg of aan gepeuter word.
KATEGORIEWENNERS
Daar is kategorieë vir nuwe en gemodifiseerde masjinerie, werktuie en landboutoerusting (wat ook sagteware en ander tegnologie insluit); gereedskap; planne in en om die huis; en ’n ope afdeling. Kontantpryse van onderskeidelik R3 000, R2 000 en R1 000 is aan die eerste drie plekwenners in elke kategorie betaal.
Vindingryke planne beïndruk
Die gewilde boerepatentekompetisie wat reeds dekades lank deel van die Nampo-oesdag by Bothaville is, is vanjaar vir die eerste keer op Nampo Kaap by Bredas-dorp aangebied. Die kompetisie staan deesdae bekend as Landbou Boereplanne en word in vennootskap met Landbouweekblad, Graan SA en Omnia aangebied.
Mnr. Andries Theron, voorsitter van Graan SA se wintergraanwerkgroep, het op Bredasdorp gesê die vlak van innovasie in hierdie eerste boereplanne-kompetisie op Nampo Kaap was uitsonderlik. “Dit gaan juis daaroor om te sien hoe planne dikwels sommerso uit die plaas se skrootwerf gestalte kry. Ons was almal aangenaam verras deur die gehalte van die inskrywings, die vakmanskap en die kreatiewe probleemoplossings.”
Mnr. Louis Strydom, bemarkings- direkteur van Omnia, het die wenners gelukgewens. “Elkeen wat ingeskryf het, se boereplan was uit die boonste rakke. Ons kan sien dat daar baie werk in elkeen van dié patente ingegaan het en bedank elke deelnemer vir die moeite wat hulle gedoen het om hul planne hier te kom uitstal.”
Ook Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, was beïndruk. “Elke inskrywing het ’n impak op die plaas. Dit spreek van die innovasie wat ons op alle vlakke in die landbou sien. “Al gaan dit soms moeilik, kom boere steeds met oplossings vorendag. Boere vaar juis so goed in moeilike omstan-dighede omdat hulle oplossing-gedrewe is.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.