Op die plaas Parys in die distrik Dwaalboom in Limpopo het menige boereplan al soveel suskses behaal dat dit ’n wenner geword het vir al wat boer is. Vandag staan die groot werkswinkel waarin mnr. Piet Simpson sy werktuie bou, sy aan sy met die ander plaasskure. Simpson vertel hy het in die distrik grootgeword.
Ná sy opleiding as elektrisiën in die 1980’s het hy sy eie elektriese onderneming in Pretoria gehad, waar hy later ook by eiendomsontwikkeling betrokke geraak het. Hy sou toe al graag gaan boer het, maar dit was midde-in ’n groot droogte wat menige boer van sy plaas gedwing en die beesbevolking weens noodverkope só erg uitgedun het dat dit vandag steeds nie naastenby op daardie era se getalle staan nie.
Twee jaar nadat sy pa, Daantjie, in 1995 oorlede is, het hy na die familieplaas getrek. Daardie jare moes die jonge Simpson gereeld boereplanne uitdink om sy lewe as boer te vergemaklik. Mettertyd het hy agtergekom ander boere vind ook by sy patente baat.