
Verlede week, besig met ’n lang inkopielys net voor die begin van die landwye inperking, het dieselfde probleem by elke winkel en besigheid ’n boer van Bultfontein erg gepla.
“Oral waar jy kom, moet jou hande met ’n ontsmettingsmiddel gespuit word. Maar op sommige plekke moet jy dit self doen en alles is nat en die bottel al taai gevat. Dit raak eintlik ’n taamlike gemors en hoe doeltreffend is die gespuit dan?” sê mnr. Michris Janse van Rensburg.
Hy en sy seun, Jedri (13), het oor die spuitbottel-kwessie gesels en toe Janse van Rensburg die volgende dag terugkeer nadat hy die werkers dorp toe geneem het, het Jedri sy pa ingewag met ’n oplossing wat hy self gebou het. Jedri het ’n staander aanmekaar gesit waarin ’n bottel handreiniger pas wat spuit wanneer ’n pedaal op die grond getrap word.
“Jinne, ek was verras met die man se uitvindsel. Ons het toe verder daaraan gewerk en dit verfyn. Maar toe ons bottels soek waarin die handreiniger kan kom, kry ons nêrens dieselfde grootte bottels nie. Jedri se volgende voorstel was dat ons die staander só bou dat ’n 2 liter-koeldrankbottel daarin pas. Dit is ook ’n slim plan, want mens kan wragtag enige plek so bottel in die hande kry.”
Janse van Rensburg, wat bekend is om die plaaswerktuie wat hy bou, sê die inperking laat sy besigheid nou stilstaan. “Die grootste probleem is dat ons nie ons produkte kan koerier nie. Ook nie hierdie staander van Jedri nie. Daar was vanoggend darem ’n oproep van ’n persoon wat handreiniger versprei wat 20 staanders bestel het en gesê het hy sal ’n koerier kan reël. En een besigheid in Bultfontein het ook een bestel.” Intussen het Jedri huiswerk van die skool ontvang, maar sy pa sê dit lyk nie asof hy nou daaraan gaan aandag gee nie.
“Nee kyk, die man is moerse trots op sy plan. Ek ook. Dit is regtig iets wat ’n verskil kan maak. En ek het nog nêrens so iets gesien nie. Weet nie eens of daar in China so ’n staander was nie.” En wat beoog Jedri om met sy wins uit die besigheid te maak?
“Hy praat van PlayStation koop. Maar ek glo nie hy gaan verby sy ma kom met daardie idee nie.”