
’n Vrystaatse plaasseun van Bultfontein, wat in die eerste week van die nasionale inperking ’n voetpomp vir handreinigers gebou het, het hy nooit besef watter reusebedryf hy gaan help skep nie.
“Dit was die begin van die voetpomp-revolusie,” vertel sy pa, mnr. Michris Janse van Rensburg, trots. Nadat Jedri (13) die eerste een aanmekaar gesit het omdat hy en sy pa gesien het hoe die gespuit van handreinigers by winkeldeure in ’n “gemors” ontaard, is derduisende voetpompe oral in die land gebou en in gebruik.
Die Janse van Rensburgs het self al meer as 1 500 verkoop.“Ek het nie gedink ons gaan só baie maak nie,” vertel Jedri skamerig. “Maar nou laat dit my nogal goed voel.” En hy mag maar, want die maak van voetpompe het vir sy gesin en heelwat ander mense die afgelope twee en ’n half maande ’n alternatiewe inkomste gebied met soveel bedrywe wat tot stilstand geruk is.
Michris, bekend om al die boerepatente wat hy al uitgedink het, se hoofinkomste is van planters wat hy vir kleinboere in ander Afrikalande bou.“Die inperking het dit skielik tot stilstand geruk en ek moes my werkers vir eers afgee,” sê Michris.
“Ek het gehoop die voetpompe sal ons darem help om net aan die lewe te bly. Daardie eerste twee weke het ek en Jedri alleen gewerk. Dit was maar ’n gesukkel om materiaal in die hande te kry en ook ons produkte te versprei. Dit het gelukkig al hoe beter en makliker begin gaan en namate meer besighede oopgemaak het, het bestellings toegeneem.
“Die werkers kon weer terugkom en later was hier 15 mense wat ons gehelp het. Dit beteken 15 ander gesinne kon ook weer kos op die tafel sit. Oor die land heen het ouens begin voetpompe bou en geld ingekry wat hulle andersins nie sou gehad het nie. Dit het ’n massiewe mark geraak.”
Nuwe planne, diefstal
Al die mededinging het Michris en Jedri heeltyd nuwe planne laat beraam om hul produkte te verbeter. Voetpompe wat met 5 liter-kanne toegerus word en goed werk waar baie mense beweeg, het groot aftrek by skole gekry.
En toe besighede laat weet dat hul bottels met handreiniger gesteel word, is die netjiese Boerepomp ontwerp.“Die Boerepomp is bestand teen diefstal,” sê Michris laggend.Ontsmettingsmiddel word in ’n staalbuis gegooi waarvan die deksel kan sluit en die pomp kan ook teen ’n muur vasgesit word.
Intussen het Jedri genoeg geld bymekaar gemaak met sy gewilde voetpompplan dat hy vir hom die PlayStation kon koop wat hy so graag wou gehad het.
“Behalwe vir die PlayStation wat hy nou kon koop, en die bietjie inkomste vir homself, is die geloof in sy vermoë en sy eie planne so belangrik,” sê Michris. “Dit gee hom die vertroue om nog iets uit te dink.”