Die aanvanklike probleem met kunsmis wat nie op standaard was nie, tesame met ’n praktyk wat vereis dat voedingstowwe dinamies en vloeibaar teen verskillende hoeveelhede toegedien kan word, het gelei tot ’n kunsmistoediener wat nie net verskillende hoeveelhede kunsmis kan toedien nie, maar wat selfs vir verskillende rywydtes gebruik kan word.
Mnr. Danie Bester, planmaker-presisieboer van Balfour, het homself in ’n netelige situasie bevind nadat hy besef het ’n vrag kunsmis wat toegedien is, was nie heeltemal op dieselfde standaard as sy normale toediening nie.
Boonop het ’n buitengewoon reënerige seisoen veroorsaak dat stikstof kwaai uitgeloog het en dat mielies nie ontwikkel het soos hulle moet nie, met potensiële opbrengsverliese.