Hoewel Namibië vanjaar goeie reën gehad het, is genoeg suipwater vir vee en wild altyd ’n probleem in dié waterarm land. Plase is groot, en boere kan nie daagliks by al hul veeposte uitkom om die water na te gaan nie.
Vir wyle mnr. Ben Louw van Kaukerus, tussen Kalkrand en Uhlenhorst sowat 180 km suid van Windhoek, was deurlopende watervoorsiening vir sy beeste en wild altyd belangrik. Hy moes veral ’n plan beraam in een van sy plaas se grootste en beste kampe met ’n trae boorgatlewering.
Sy een seun, Leon, sê veral in die tyd voor elektriese krag aangelê is, was watertoevoer deur die windpomp by die boorgat ’n probleem omdat daar baie dae geen wind gewaai het en dus geen water gepomp is nie. Gevolglik was die suipkrippe dikwels leeg.