Hy het op skool landbou as sy sesde vak gekies. “Glad nie omdat ek gedroom het ek gaan eendag boer nie, ek het net nie geweet wat anders om te neem nie!” sê mnr. Hein Jurries.
Hy het matriek op Riversdal met sulke goeie resultate deurgekom dat hy beloon is met ’n beurs vir verdere studie by die Kromme Rhee-landboukollege, waar die landbou ’n ander plek in sy kop begin inneem het, vertel Jurries.
Nadat hy sy twee jaar lange algemene landboudiploma in 1990 verwerf het, het die Môrester-landgoed in die Koue Bokkeveld hom die pos van produksievoorman aangebied. Hoewel hy landbou studeer het, was dit dié dorpsjapie se eerste ware kennismaking met die plaaslewe.