Sowat 2 000 kameras in die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap met 24-uur-monitering trap misdadigers se tjank hier vinniger af. Die idee vir dié omvattende veiligheids- en samewerkingsnetwerk het net meer as twee jaar gelede ontstaan nadat boere langs die Vaalrivier ’n reaksiemag saamgestel het om miljoene rande se skade weens koperdiefstal by hul pompstasies stop te sit.
Die reaksiemag van boere by Orkney, Vierfontein en Viljoenskroon word deur die boere gefinansier, en werk ten nouste saam met boereverenigings, private ondersoekers en die polisie om misdaad te bekamp. Om veiligheidsredes wou hulle nie nadere besonderhede verskaf oor logistieke besonderhede nie.
Die netwerkorganisasies in die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap wat saamwerk, sluit in die Suid-Afrikaanse poligraaf-en-ondersoekdiens (Sapis), Syntell Kamera Agri en verskeie boereverenigings wat saam betrokke is by Business Against Crime se E2- (eyes and ears) projek.