Indringerplante skep verskeie probleme vir die landbousektor, onder meer dat verdere druk op skaars hulpbronne, soos water, geplaas word. Die muskietboom of heuningprosopis (Prosopis glandulosa), ’n Noord-Amerikaanse doringboom wat groot, voedsame peule dra, is só ’n plant.
Duisende van dié bome groei in die hartjie van die Karoo op die oewer van die Oranjerivier waar dit landbougrond verswelg. Een familie van Prieska het ’n manier gevind om dié irritasie in iets nuttigs en genotvols te omskep, en is nou die enigste mense in Suid-Afrika wat dit in ’n koffiedrankie verwerk.
Mnr. Brandt Coetzee, wat al 26 jaar met muskietbome te doen het, het in 1996 met navorsing oor prosopisbome begin om vas te stel of die hout of peule ekonomiese waarde het ten einde sekondêre bedrywe vir die departement van waterwese en bosbou se Werk-vir-Water-program te ondersoek.