
Die gewilde Boerepatent-kompetisie op die Nampo-oesdag buite Bothaville het jare lank uitstekende voorbeelde van boere se vindingrykheid opgelewer en vergestalt die gesegde van ’n boer maak ’n plan.
Sedert Nampo Kaap ook onder die vaandel van Graan SA aangebied is, trek die Overbergse uitstalling boereplanne net soveel aandag. Wie sal die Darling-boer mnr. André Kirsten se rooikatverjaer met ’n sonpaneel en radio wat skape “oppas” ooit vergeet wat in 2019 die aandag op Bredasdorp getrek het?
Landbouweekblad het in 2018 kragte saamgesnoer met Omnia en Graan SA om die kompetisie aan te bied, wat nou Landbouweekblad Boereplanne heet. Lesers kan ook deur die jaar in Landbouweekblad oor die nuutste boereplanne lees, waarvan baie op die Nampo Kaap te sien sal wees.
Lees ook dié boereplanne hier op Landbou.com. Groot prysgeld is op die spel in vanjaar se kompetisie.
Die afdelings waarin jy jou boereplan kan inskryf, is:
Nuut: Masjinerie, implemente en landboutoerusting (rekenaarprogrammatuur, slimfoontoepassings en enige ander tegnologie ingesluit)
Gemodifiseerd: Masjinerie, implemente en landboutoerusting (rekenaarprogrammatuur, slimfoontoepassings en enige ander tegnologie ingesluit)
Gereedskap: Alle gereedskap, elektries sowel as nie-elektries.
Huis en tuin: Planne wat in en om die huis gebruik kan word, ook in die kombuis.
Ope-afdeling: Enige item wat nie hier bo genoem word nie met ’n vervaardigingskoste van minder as R5 000. Inskrywings kan aan mnr. Wim Venter by wim@grainsa.co.za of Graan SA, Posbus 88, Bothaville, 9660, gerig word. Klik hier vir die inskryfvorm.
1. Ingeskrewe artikels moet by Graan SA Nampo Kaap se perseel uitgestal word.
2. Inskrywings sal slegs op die amptelike inskrywingsvorm aanvaar word.
3. Alle deelnemers sal na afloop van Nampo Kaap deur Landbouweekblad gekontak word vir moontlike publikasie van die betrokke inskrywing in Landbouweekblad of op Landbou.com.
4. Die deelnemer is verantwoordelik vir die vervoer van sy plan voor en n die kompetisie, tensy anders met Omnia Nutrilogie ooreengekom.
5. Graan SA, Omnia Nutrilogie en Landbouweekblad aanvaar geen aanspreeklikheid vir enige verliese tydens deelname aan die kompetisie nie.
6. Wenners moet tydens die prysuitdeling op Vrydag 16 September 2022 teenwoordig wees. Afwesigheid van hierdie geleentheid sal tot gevolg hê dat prysgeld verbeur word.
7. Geen items wat kommersieel bemark word of in die proses van registrasie is, mag ingeskryf word nie.
8. Die inskrywings van gepatenteerde items wat in ’n nuwe inskrywing omskep word, sal slegs toegelaat word as dit nie kommersieel beskikbaar is nie.
9. Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen mondelinge of skriftelike kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.
10. Die beoordelaars sal pryse na hul diskresie toeken en inskrywings diskwalifiseer sou dit nie gepas wees na hulle oordeel nie.
11. Deelnemers kan meeding in die afdelings soos hierbo uiteengesit.
12. Inskrywings moet Graan SA voor of op Maandag 5 September 2022 bereik.
13. Inskrywings moet op die terrein wees om 14:00 op Dinsdag 13 September 2022. ’n Afskrif van die inskrywingsvorm moet saam met die plan by die ingangshek getoon word om toegang te verkry. Geen inskrywings sal sonder hierdie bewys op die terrein toegelaat word nie.
14. Geen inskrywings mag voor 15:00 op Saterdag 17 September 2022 van die terrein verwyder word nie.
15. Alle inskrywings word vir die duur van Nampo Kaap as permanente uitstallings beskou. As ’n bakkie bv. gebruik word om te demonstreer hoe ’n plan werk, mag die bakkie nie van die terrein verwyder word nie.