Wie is beter as ’n skaapboer met ’n skeeronderneming om skaaptoerusting te ontwerp of te verfyn? Een van mnr. Tienie du Toit, vyfdegeslagboer van die plaas Gelegenfontein by Steynsburg, se eerste ontwerpe onder die vaandel van Skaapskêr Customs was ’n veeldoelige voerbak.
Dié vier-in-een-bak bestaan uit die bak self, ’n dakkie, ’n kruipvoerrooster en ’n skermpyp. Die bak kan op sy eie as lekbak gebruik word. Met die byvoeging van die dakkie kan die voerkorrels teen son en reën beskerm word.
Met die kruipvoerrooster, wat ook saam met die dakkie gebruik kan word, kan dit aangepas word om kruipvoer aan lammers te gee en die ooie weg van die voer te hou. Om te voorkom dat gulsige vreters mekaar wegdruk, kan die skermpyp opgesit word.