Dié rugbyspelers het ál drie ’n swak plekkie vir die Eikestad gehad – die Bolandse dorp wat al meer as een keer ’n wyn- en rugbyfabriek genoem is. In 1995 het hulle ook Vin de Trois – ’n wyn wat die drie Springbokke saam gemaak het – bekend gestel ter ere van hul oudafrigter, Dok Danie Craven.
Jannie het van 1960 tot 1969 vir die Bokke as vleuel uitgedraf. In 1978 het hy sy droombewaarheid om ’n wynplaas met ’n Kaaps-Hollandse huis tebesit toe hy Rust en Vrede gekoop het. Jannie het op ’n plaas naby Vredendal grootgeword en ook voorheen daar geboer, wat beteken het hy moes drie keer per week die 700 km heen en weer Stellenbosch toe aflê vir rugby-oefening.
“Dit was erg, maar dit was maar wat gedoen moes word. Ag man, as jy iets wíl doen, dan kán jy, al beteken dit jy moet lang ure insit,” vertel hy.
Een van sy roemrykste wedstryde was die Curriebeker-kragmeting tussen WP en die Bulle in 1964 toe hy sy sleutelbeen kort ná rustyd gebreek het. Plaasvervangers was toe nog nie toegelaat nie, en die WP kon nie bekostig om Noord-Transvaal met net veertien spelers te pak nie. Jannie moes maar op sy tande kners en aanspeel.
“Die pyn was só erg, dis asof my onderbewussyn oorgeneem het. Ek weet nie wat sou gebeur het as ek moes val nie, en ek moes uit die teenstanders se hande bly,” vertel Jannie, wat deesdae op Hermanus woon. Hy het dus óm hulle gehardloop om twéé keer agter die pale te gaan kuier.
“Ek moes die bal in my regterhand dra om te gaan druk, want dit was so goed ek het nie ’n linkerarm nie, maar ons het darem die Curriebeker gewen!”
Het boerseuns dan meer murg in hul pype, of hoekom was hy so taai? “Jy dink dis ’n lawwe vraag, maar ek dink tog dié wat in die landbou grootgeraak het, het ’n voordeel. Jy word blootgestel aan baie ander dinge as die stadsjapies. Ons het baie met die bruin kinders gespeel,en hulle was dikwels groter as ons. Ons het ook ’n gesonde leefstyl gehad en was baie buite in die oopte en die ruimtes.”
Jan Boland sê hy was destyds “seker te dom vir Tukkies”, want hy kon nie keuring vir veeartsenykunde kry nie, toegaan studeer hy eerder wingerd-en-wynbou by Maties.
“Dis nou al 52 jaar later, en ek is steeds hier. Wat ’n voorreg,” vertel Jan Boland, oudlosvoorspeler wat nooit sy Swartlandse bry afgeskud het nie.
Op Stellenbosch het hy ook “die wonderlike spel rugby” onder Dok Craven geleer.
Jannie Krige van Kanonkop was sy o.19- en o.20-afrigter en só het Jan Boland op Kanonkop begin werk.“Ek het twaalf jaar lank geboer en rugby gespeel. ’n Normale dag het vyfuur soggens begin en ek het gewerk tot so vieruur voor ek Nuweland toe moes ry om betyds te wees vir oefening. Jy het dikwels eers elfuur die aand by die huis gekom.”
Dit het gehelp dat die rugbyseisoen toe eers einde Februarie afgeskop het en dat hulle nie sommer meer as 12 naweke weg van die huis was nie. Dok sou die spelers gewoonlik laat oefen het wanneer die universiteit “diep in Februarie” begin.
“Dit was darem die tweede deel van die parstyd, maar daardie tyd het ons baie hard gewerk. Ons het mos nie spuitstowwe gehad nie, en ons moes dus 150 ha bankies spit met ’n graaf en dan nog al die ander dagtake.”
In 1980 het Jan Boland die wynplaas Vriesenhof in die Paradyskloofvallei gekoop.
Die oud-Bokstut en vyfde generasie-wynmaker Hempies du Toit het op die historiese landgoed Alto grootgeword en 25 oesjare daar wyngemaak. In 1996 het hy die naby geleë Annandale gekoop, waar hy die familietradisie voortsit.
Hy onthou ook die dae van bankies spit. “Vandag se jongmense dink mos hulle kan hulle doodwerk, maar jy kan nie. Ons het bankies gespit met ’n dubbelblad-graaf (ons het dit ’n lui donkie genoem) van sesuur in die oggend tot sesuur die aand. Op die dae dat ek by WP moes gaan rugby oefen, het ek 16:45 in die bakkie gespring en rugby toe gejaag en dan nog ’n uur en’n half geoefen. En ek sal jou sê, hy het my nooit gewen nie.”
Hy glo dié harde werk het ’n groot bydrae gelewer tot sy posisie as vaskopstut. “Ek het ontsettend sterk geword deur my werk, veral my bolyf. Ek het die graaf se ritme by die werkers geleer, en ek dink omdat ek regs gespit het, het dit my gehelp om regs te sak in die skrum. Ek het altyd half ongemaklik gevoel om links te sak.
“Een jaar – ek dink 1976 – het ek sommer van die wingerd af gaan speel. Ek het nie eens geoefen nie, maar die plaaswerk het my wedstrydfiks gemaak.”
Sy pa kon vir hom op die plaas instaan, maar in 1981 het hy vir ses weke saam met die span in Nieu-Seeland gaan toer. “Ek het die plaas opgeoffer en ook my seun, Boeboe, se geboorte misgeloop. Ek het hom eers ontmoet toe hy ses weke oud was.”
Op die toere kon hy darem sy boerderybelangstelling uitleef. “In Nieu-Seeland kon ek na hul witwynbedryf gaan kyk. Ek het ook drie maande in Bordeaux in Frankryk gespeel. Dit was my grootste ervaring om hul kos- en wynleefwyse te beleef.”