Na afleiding van ’n artikel in Landbouweekblad oor kontrakvoedingdienste wat voerkrale aanbied, het ek ’n sekere voerkraal gekontak om te hoor hoe kontrakvoeding werk.
Hulle eerste vraag was, doen ek dit vir beleggingsdoeleindes of vir belastingdoeleindes.
Soos ek verneem, is die standaard (belasting) waardes van vee R50 (of R60?) per kop vir bees en R4 (of R5?) per kop vir skaap aan die einde van die boekjaar?
Kan u asb meer inligting deel van hoe hierdie ’n belasting voordeel kan inhou? Ontvang mens ’n aftrekking op jou inkomste-belasting wat lei tot ’n vasgestelde verlies (wat beteken ons hoef nie belasting te betaal nie) of kry mens ’n terugbetaling vanaf die SAID vir ’n sekere rede?
Watter effek het hierdie standaardwaardes op openingsvoorraad teenoor eindvoorraad?
Die sogenaamde standaardwaardes vir vee is baie jare gelede deur die SAID ingestel om ’n standaard basis vir veewaardes onder alle boere te kry. Dit was destyds ’n realistiese markwaarde maar dit is nooit weer daarna aangepas nie omdat dit dan ’n “kunsmatige” verhoging in belasbare inkomste sou veroorsaak en dit het toe mettertyd aansienlik agter geraak.
Die gewone som om belasbare inkomste uit vee te bereken is: Verkope – Aankope – Beginvoorraad + Eindvoorraad. In die jaar wat jy die vee aankoop vir bv R500 000.00 (100 kalwers teen R5000) kan jy die aankope aftrek maar dan kom daardie einste kalwers teen R400 (100 x R4) as eindvoorraad in jou inkomstestaat en veroorsaak dit dus ’n belastingverlies van R499600,00.
Die situasie draai egter om wanneer jy die kalwers weer verkoop want dan is die beginvoorraad wat jy kan aftrek maar R400 en die verkope weer R500 000,00 (as die waarde dieselfde bly) en sal die belasbare inkomste vir daardie jaar dan R499 600,00 wees.
Standaardwaardes van beeste en skape:
BEESTE Bulle |
R 50.00 |
Osse |
R 40.00 |
Koeie |
R 40.00 |
Tollies en verse: 2-3 jaar |
R 30.00 |
Tollies en verse: 1-2 jaar |
R 14.00 |
Kalwers |
R 4.00 |
SKAPE Hamels |
R 6.00 |
Ramme |
R 6.00 |
Ooie |
R 6.00 |
Gespeende lammers |
R 2.00 |
* Geskryf deur dr. Philip Theunissen van Computus
Bestuursburo, Bethlehem.
