Petrus van der Walt en sy vrou, Hannelie, boer op die plaas Boulust tussen Alldays en Lephalale. Hul seun, Hendrik, en skoonseun, Joe Roos, boer saam as direksielede van die Boulust-boerdery. Petrus is die derde geslag boer op Boulus en hy is vasbeslote om die plaas in die familie te hou.
Petrus se benadering tot diversifikasie en wisselbou hou hom reg deur die jaar besig. Hy boer met een doel voor oë: om die grond volhoubaar aan die volgende geslag oor te gee. Die boerdery bestaan uit tabak, aartappels, tamaties en pampoene, en ’n vee- en wildvertakking.