AFGRI
BEAN
30 Mrt
-
9774
0,00
CORN
30 Mrt
-
4642
0,00
SOYA
30 Mrt
-
8220
0,00
SUNS
30 Mrt
-
8760
0,00
WEAT
30 Mrt
-
6630
0,00
WMAZ
30 Mrt
-
3950
0,00
YMAZ
30 Mrt
-
4027
0,00
AMT
Ave Wool - Non RWS
17 Mrt
-
171,8
1,17
Ave Wool - RWS
17 Mrt
-
185,09
1,47
Beeste A2/3
17 Mrt
-
54,2
-0,07
Beeste AB2/3
17 Mrt
-
52,95
-0,19
Beeste B2/3
17 Mrt
-
49,6
-1,22
Beeste C2/3
17 Mrt
-
48,53
0,72
Bevrore Hoender
17 Mrt
-
32,97
-0,23
Bokkies (onder 30 kg)
17 Mrt
-
48,13
-1,27
Bokooie
17 Mrt
-
36,44
-2,17
Groot (meer as 40 kg)
17 Mrt
-
36,2
-0,10
Hoender (IQF)
17 Mrt
-
32,21
-0,01
Medium (30-40kg)
17 Mrt
-
44,61
-2,43
Pork Average
17 Mrt
-
32,03
1,11
Poultry Average
17 Mrt
-
32,99
-0,12
Skaap A2/3
17 Mrt
-
82,81
3,66
Skaap AB2/3
17 Mrt
-
81,07
13,42
Skaap B2/3
17 Mrt
-
69,48
9,39
Skaap C2/3
17 Mrt
-
61,58
3,03
Speenkalf
17 Mrt
-
34,11
0,00
Spekvarke
17 Mrt
-
34,05
1,60
Stoorlammers
17 Mrt
-
38,98
-0,96
Varkwors
17 Mrt
-
25,37
1,06
Vars Hoender
17 Mrt
-
33,79
-0,13
Vleisvarke
17 Mrt
-
31,76
0,95
Deel

Is kiwi’s die nuwe groen goud?

akkreditasie
 ’n Moderne kiwiblok. Die prieel is soortgelyk aan tafeldruiwe. Foto: VERSKAF
’n Moderne kiwiblok. Die prieel is soortgelyk aan tafeldruiwe. Foto: VERSKAF
Kiwi’s is dalk skaars in Suid-Afrika, maar oor bykans die wêreld heen styg die vraag na dié vrugte vinniger as die aanbod.

Groot geld word nou belê om die plaaslike bedryf uit te brei, want danksy ’n goeie markgaping, aangepaste kultivars en gesonde verbouingstoestande selfs die inkomste uit bloubessie kan klop.

Bloubessies, neute, avokado’s en . . . kiwivrugte. Dís die vier kommoditeite in die vrugtewêreld wat tans teen ’n stywe pas groei, glo mnr. Roelof du Toit, van TopFruit se kiwi-afdeling. “En kiwi’s het die meeste potensiaal as gevolg van die lae hoeveelhede wat tans wêreldwyd gelewer word.”

Dié blok kiwiplante op ’n plaas in die Rawsonville-omgewing is in die laat 1970’s gevestig en waarskynlik een van die oudste blokke in Suid-Afrika. TopFruit is ’n aandeelhouer in die blok waarin nuwe lewe geblaas is met netstrukture. Van die stokke is ook onlangs oorgeënt met nuwe, verbeterde kultivars. Die opleistelsel word ook aangepas.

Oor die vraag – plaaslik en internasionaal – na kiwivrugte bestaan daar geen twyfel nie: Dis gewild van China tot Afrika. Danksy nuwe kultivars wat die plaaslike klimaat beter pas en ook lekkerder smaak, verbeterde produksietegnieke, gesonde plante en ’n aantreklike gaping in die mark is daar baie min wat in Suid-Afrika se pad staan om ’n gerekende kiwiproduserende land te raak.

Daarom, sê mnr. Tilis Moggee, eenheidsbestuurder vir kiwivrugte by TopFruit in Simondium, wil die maatskappy graag die kiwibedryf in Suid-Afrika behoorlik vestig en uitbrei.

Die maatskappy, wat in intellektuele eiendomsreg vir plantmateriaal spesialiseer, het onlangs ’n aandeelhouer geword in ’n maatskappy wat ondersteunings- en bemarkingsgeleenthede aan plaaslike kiwivrugboere bied.

Dis ’n nuwe veld vir TopFruit. Die blote feit dat die maatskappy die nuwe terrein betree, bewys hoe opgewonde hy is oor die toekoms van kiwiboerdery in Suid-Afrika.

Mnre. Roelof du Toit (links) en Tilis Moggee, albei van TopFruit, in ’n blok kiwiplante. Kiwi’s is klimaatsgebonde en vereis hoë humiditeit, koeler somers, genoeg koue-eenhede en goed gedreineerde grond.

Konserwatiewe somme

Roelof sê hoewel die bedryf in sy kinderskoene staan, wys die syfers daar is rede tot optimisme. “ ’n Konserwatiewe som wys ’n boer kan R400 000/ha verdien, maar die geleentheid is daar vir ’n veel groter inkomste.” Volgens die webwerf FreshPlaza wissel die kiwiprys van R37/kg tot R45/kg in Europa.

Wat produksie betref, behoort ’n gemiddelde opbrengs van 30 t/ha haalbaar te wees. “Dit klop derhalwe baie ander gewasse – beslis wyndruiwe en dalk selfs bloubessies! Hier is dus geleenthede om eerder met 10 ha of 20 ha kiwi’s te boer as met 100 ha van ’n gewas wat ’n lae inkomste bied,” sê Roelof, wat betrokke is by sowat 15 kiwiproefblokke oor die hele Suid-Afrika.

Hy het ook al twee keer in Nieu-Seeland gedraai om te gaan kers opsteek. Die vestigingskoste is ook nie so hoog soos vir bloubessies nie. Teen R500 000/ha behoort ’n boer ’n hektaar kiwi’s te kan vestig en te dra tot dit teen die derde jaar in produksie kom (die pale en netstrukture is ingesluit).

“Selfs teen 20 t/ha gaan dit winsgewend wees.” Tans word die meeste kiwi’s in Suid-Afrika in Limpopo verbou, waarvan die meeste die ou Hayward-kultivar is. “Daar is Suid-Afrikaanse boere met groot planne vir die bedryf. Hulle mik daarna om die land ’n netto uitvoerder van kiwi’s te maak,” berig FreshPlaza.

“Gevolglik word groot beleggings gemaak om groter hoeveelhede van die geelvleiskiwikultivars aan te plant. Die doel is om voordeel te trek uit die markgaping wat tussen Februarie en Maart bestaan, voordat die Nieu-Seelandse seisoen begin.”

Sterk markte . . . op die voorstoep

Agt van die tien grootste kiwiproduserende lande, soos Italië, China en Amerika, is in die Noordelike Halfrond.

“Kiwi’s het ’n korter opbergtyd as appels, wat beteken die vrugte is binne drie tot vier maande klaar bemark. Daar is dus geleenthede om vir die Noordelike Halfrond se afseisoen te lewer, maar ook vir die Suidelike Halfrond, waar meer as 90% van die kiwi’s nog ingevoer word,” sê Tilis.

Roelof voorspel dat Afrika, Europa, Maleisië, Singapoer en Hongkong Suid-Afrika se grootste markte gaan wees. “Ons seisoen is vroeër as Nieu-Seeland s’n. Ons sal hulle dus in die Asiese markte voorspring en ons is nader aan Europa as Nieu-Seeland, wat ook in ons guns tel.”

Tilis meen sodra daar genoeg vrugte is, sal Afrika beslis sy staal as afsetgebied wys (nes die geval met Pink Lady-appels). “Oral waar ons in Afrika kom, onder meer Kenia, Tanzanië, Rwanda en Uganda, eet die mense kiwivrugte. Dit kom alles via Suid-Afrika van Nieu-Seeland af.”

Van die oudste kiwi-aanplantings in Suid-Afrika dateer van die laat 1970’s en die kultivars is nie werklik aangepas vir die plaaslike toestande nie. Nuwe plantmateriaal en opwindende kultivars (selfs rooivleis-kiwi’s), behoort die kiwibedryf ’n nuwe voorkoms te gee.

Hayward, die bekende groen kiwi-kultivar met sy effens suur smaak.
Dori is ’n soet Italiaanse geelvleiskultivar waarvoor TopFruit die plaaslike lisensie gekry het.
Rooivleiskiwi’s is ’n nuwe gonswoord in die bedryf. TopFruit het die kultivar Red Sun 1 in die hande gekry en toets dit tans. Rooivleiskiwi’s kom ook uit die spesie Actinidia chinensis.

Die Hayward-kiwi (Actinidia deliciosa), ’n groen vrug met ’n suurderige smaak, is ’n oop kultivar (sonder planttelersregte) en seker die bekendste kiwikultivar. Hayward het sowat 600 tot 800 koue-eenhede nodig.

Die nuwe generasie kiwi’s het egter ’n beter smaak en houvermoë, en kan in ’n wyer verskeidenheid klimaatstreke geplant word omdat dit ’n laer kouebehoefte het.

Geel kiwivrugte is al geruime tyd op die rakke. TopFruit het die plaaslike lisensie verkry om Dori, ’n Italiaanse kultivar met ’n soeter smaak waaroor almal gaande is, te versprei. Die plantmateriaal is tans in kwarantyn en word waarskynlik later vanjaar beskikbaar gestel (boere staan al tou hiervoor).

Dori vereis sowat 400 tot 600 koue-eenhede. Nog ’n interessante kultivar wat TopFruit verkry het, is Red Sun 1, ’n rooivleiskiwi uit China. Dis in ’n toetsfase in Suid-Afrika. Dori en Red Sun 1 kom uit die spesie Actinidia chinensis, wat in die algemeen ’n laer kouebehoefte en ’n soeter smaak het.

“Ons is ook baie opgewonde oor ’n soet, groen kiwi. Dit sal ’n deurbraak wees omdat die bestaande groen kultivars ’n suurder smaak het.” Tans staan daar sowat 100 ha groen en 100 ha geel kiwivrugte in Suid-Afrika.

Nieu-Seeland het wel die kiwi bekend gemaak, maar dit is eintlik inheems aan China (sien kassie op bladsy 37). “Die grootste teelprogram is by die Nieu-Seelandse instituut vir plant- en voedselnavorsing, en die naasgrootste is in China. Ons het ook vyf kultivars uit China ingevoer wat volgende jaar beskikbaar gestel sal word,” sê Tilis.

Alle kultivars sal onderhewig wees aan plant- en produksieheffings. “Wat kiwivrugte so besonders maak, is dat nie almal dit kan plant nie, want dit is uiters klimaatsgebonde,” sê hy

“Boere moet dus die regte gebiede en kultivars uitsoek, en ons kan daarmee help.”

Kiwi’s vereis hoë humiditeit, koeler somers, genoeg koue-eenhede en goed gedreineerde grond met ’n pH-waarde van 5,8 tot 6,5.

Data-ontledings toon die gebiede in Suid-Afrika waar dit die beste gaan aard, is:

  • Magoebaskloof (die klimaat vergelyk goed met Nieu-Seeland);
  • Waboomskraal (daar staan tans ’n proefblok en kiwi’s bied ’n goeie alternatief vir hopsboere om weer hul stellasies te benut);
  • Nelspruit en Witrivier in Mpumalanga en Richmond in Kwa-Zulu-Natal, waar boere reeds met kiwivrugte boer;
  • Langkloof (proefblokke word in sekere gebiede gevestig);
  • Swellendam; en
  • Rawsonville/Slanghoek en ’n bietjie in Elgin.

Hoe boer jy met ’n kiwi?

Kiwiplante word 5 m x 2 m uitmekaar geplant. Dis ’n tweeslagtige gewas. Daarom word manlike plante teen ’n verhouding van 1:4 tussen-in geplant. Na gelang van bestuiwingsmetodes kan dit gerek word tot 1:8.

“Bestuiwing gaan jou grootste suksesfaktor by kiwi’s wees. Jy moet bye hê, maar dit kan ook met die hand gedoen word.” Dit word, soortgelyk aan tafeldruiwe, met ’n dakprieelstelsel opgelei. Roelof en Tilis raai boere aan om kiwiplantasies onder netstrukture te vestig, aangesien die vrugte gevoelig is vir wind- en sonbrandskade.

“Dit raak gevaarlik bo 35 °C, maar hoe ouer die plant raak, hoe meer bestand raak dit ook teen hitte.” Die plante word sowat 2 m hoog opgelei, met die nette wat minstens 2 tot 4 m bo dit gespan word. Hoe hoër, hoe beter is die kans dat bye suksesvol daar sal werk.

Tilis sê die meeste aanplantings is tot dusver sonder onderstamme gedoen, maar hulle beveel ’n goeie onderstam aan.

“Daar is ’n tradisionele onderstam beskikbaar, maar ook nuwes wat geëvalueer word. So ’n boord word vir die lang termyn gevestig en ’n onderstam kan tot 60 jaar oud word, maar, anders as by appelbome wat hul vermoë om oorgewerk te word mettertyd verloor, kan jy kiwistokke afsaag en oorent soos jy wil. Daar is nie ’n ander kommoditeit wat hierdie geleentheid bied nie.”

Die nuwe generasie kiwikultivars lewer uitstekende opbrengste – tot 40 t/ha.

Kiwiplante begin ná drie jaar vrugte dra en bereik teen die vyfde jaar volle produksie. In Nieu-Seeland lewer die geel kultivars sowat 60 t/ha in voldrag. Roelof sê in Suid-Afrika maak hulle staat daarop om 40 t/ha te oes, hoewel die toetsblokke al gemaklik 30 t/ha oplewer.

Die Nieu-Seelandse opbrengste met groen kultivars is sowat 50 t/ha, terwyl Roelof sy somme op 25-30 t/ha doen. Oestyd breek in die noorde van Suid-Afrika (geel kultivars) in Februarie aan en in die Wes-Kaap teen middel Maart. Die groen kultivars is sowat ’n maand tot ses weke later as die geel (of rooi kultivars) oesgereed.

Die vrugte word met die hand gepluk terwyl dit nog redelik ferm is. “Die lekker ding is dat kiwi’s voor die voet geoes word, en die boord dus net een keer deurgestap word. Ons oes op 8-9 °B,” sê Roelof. Die vrugte moet minstens drie maande (en tot ses maande) koelopberging kan deurstaan.

“Aangesien kiwi’s baie gevoelig is vir etileen, moet dit alleen opgeberg word. Daar kan nie ander vrugte in die koelkamer wees nie. Dit kan baie ferm uitgevoer word, en dan kan die invoerder dit by die bestemming ryp maak met ’n bietjie etileen.”

Aangesien die plant (soos ’n wingerdstok) op twee jaar oue lote vrugte dra, word die ou lote wintertyd weggesnoei. In die somer is dit belangrik om loofbeheer toe te pas en die lighuishouding in stand te hou (maar ook seker te maak die vrugte is beskerm teen sonbrand).

Kiwiplante kan lekker dors raak en het sowat 10 000 m³ water per ha nodig om te floreer (maar die grondtipes en vruglading speel uiteraard ’n rol). Vanweë die groot wortelstelsel word mikrospuite aanbeveel. “Die plante se huidmondjies gaan nooit volledig toe nie, daarom respireer dit die hele tyd. Moet egter nie skrik vir al die water nie; die winsgrense laat toe om op minder hektare te boer vir dieselfde geld.”

Aangesien kiwivrugte betreklik min het wat hom pla en dus min bespuitings verg, is dit een van die maklikste gewasse om organies te verbou – wat goed is vir die boer se sak, maar ook inpas by verbruikersvoorkeure.

“Daar is een bakteriese siekte wat die bedryf in die res van die wêreld byna gekelder het. Dit is PSA (Pseudomonas syringae pv actinidiae) en dit het alle groot produserende lande, soos China, Nieu-Seeland en Chili, getref. Al waar dit nie voorkom nie, is Suid-Afrika. Ons glo die Suid-Afrikaanse somers is te warm vir die siekte om te oorleef,” sê Roelof.

“As ons doodseker kan wees dat PSA nie hier voorkom nie, is daar regtig geen ander groot siekte – soos witroes of donsskimmel – wat kiwi’s beïnvloed nie. Dit beteken dus boere gebruik baie minder spuitstowwe en as jy genoeg koue-eenhede het, is dit een van die maklikste gewasse om organies mee te boer.”

’n Ou kiwiboord wat teen 1978 aangeplant is. Deesdae volg boere nuwe opleipraktyke en nette word ook aanbeveel om wind- en sonbrandskade te beperk.
Die stokke kan tot 60 jaar oud word. Dit kan maklik oorgewerk word met beter bostokke, selfs al is die boord al baie oud.

Wêreldmark vir kiwi’s

Die vraag na kiwivrugte groei wêreldwyd en die aanbod kan nie met vraag tred hou nie. Die waarde van kiwi-uitvoer het sedert 2012, toe verskepings op $2,1 miljard geraam was, gemiddeld met meer as 20% gestyg vir alle uitvoerlande, luidens ’n verslag deur Mordor Intelligene oor die internasionale kiwivrugmark.

Nieu-Seeland, Italië, Chili, Griekeland en China is die vernaamste kiwiproduserende lande. In die komende jare kan aanplantings van sowat 1 800 ha in Europa en 400 ha in Nieu-Seeland verwag word, berig Freshplaza.com. Nieu-Seeland. Die Nieu-Seelanders se uitvoer het die afgelope seisoen fluks gegroei.

Die kultivar SunGold wen veral veld in Japan en China, hul grootste uitvoermarkte. Luidens die verslag voer die Nieu-Seelanders kiwi’s van sowat $275 miljoen (Amerikaanse dollar) na Japan, $200 miljoen na China en $110 miljoen na Taiwan uit. Die maatskappy Zespri, wat Nieu-Seelandse kiwi’s uitvoer en as die grootste kiwibemarker ter wêreld beskou word, het ook sy visier op ander markte in Suidoos-Asië, Indië en Amerika.

Zespri bedien sowat 50 lande en bestuur ongeveer ’n derde van die totale internasionale volume. Hy probeer die mark vir SunGold verder uitbrei en wil uiteindelik hê dat die groen en geel kiwi’s ’n gelyke markaandeel het. Nieu-Seeland het in 2015 ’n oes van sowat 475 000 ton ingesamel, luidens die verslag.

Dis danksy groot, nuwe geel kiwi-aanplantings (sowat 1 000 nuwe ha van 2014 tot 2015). Europa. In Europa is daar deur die hele jaar ’n goeie vraag na kiwi’s, met pryse wat wissel van €2,50 tot €3,00 (R37 tot R44,50) per kg. Die Italiaanse kiwibedryf (waar SunGold ook verbou word) het in die jongste tyd stewig gegroei, maar die Italianers verwag dat die vraag vinniger as die aanbod gaan styg.

Met dié dat die Nieu-Seelandse en Chileense seisoen vroeg geëindig en ryp die mededinging uit Italië gedemp het, het die Grieke die afgelope seisoen ’n goeie slag geslaan. Daar was ’n groot vraag na en hoë pryse vir kiwi’s toe hulle in September begin oes het. Die Europeërs beskou Asië as ’n aantreklike mark, veral in Guangzhou en Shanghai.

Die Spaanse mark word hoofsaaklik voorsien deur Chili. Die Spanjaarde eet sowat 130 000 ton kiwi’s per jaar, maar lewer self net 20 000 ton. Die Europeërs soek meer Chileense kiwi’s omdat die gehalte die afgelope paar jaar verbeter het. Chili vry egter ook na Latyns-Amerika en Asië.

Die Franse verkies hul eie kiwi’s, maar voer ook in uit Italië en Griekeland. Kiwi’s word in die suide van Frankryk verbou en buiten hul eie mark, voer die Franse ook vrugte uit na Afrika. Amerika. Kalifornië, waar bykans 98% van Amerika se kiwi’s verbou word, sou vanjaar bykans 30 500 ton kiwi’s geoes het.

Byna 80% daarvan is vir die plaaslike mark bestem. ’n Klein bietjie word na Mexiko, Kanada en Japan uitgevoer. In die winter voer Amerika kiwi’s uit Chili en Nieu-Seeland in. Hoewel die groen kiwi’s goed verkoop, is dit veral die geel kultivars wat groei toon.

‘Ons seisoen is vroeër as Nieu-Seeland s’n. Ons sal hulle dus in die Asiese markte voorspring en ons is nader aan Europa as Nieu-Seeland, wat ook in ons guns tel.’

die kaping van ’n naam

Dink aan kiwi’s, en jy dink waarskynlik dadelik aan Nieu-Seeland. Die waarheid is egter dat die vrugte eintlik uit die Yangtze-riviervallei in die noorde van China en die provinsie Zhejiang aan die ooskus van China kom en met ’n vloekskoot (en goeie langtermynvisie) Nieu-Seeland se voorste landbouproduk geraak het.

Time.com beskryf dit as een van die ongelooflikste bemarkings- en botaniese kapings ter wêreld. Die ou Engelse naam vir kiwivrugte is eintlik Chinese appelliefies en in Chinees staan dit bekend as mihoutao, volgens die webwerf.

In 1904 het Mary Isabel Fraser, hoof by ’n meisieskool, van die Chinese appelliefie-saad uit China saamgebring na Nieu-Seeland. Sy het dit aan ’n boer, Alexander Allison, gegee, wat dit op sy plaas naby die dorpie Whanganui op Nieu-Seeland se Noord-eiland geplant het.

Die bome het in 1910 hul eerste vrugte gedra. In dié tyd het die Amerikaners en Britte ook gespeel met die gewas, maar hulle kon nie die vrug kommersialiseer nie (hul saad het byvoorbeeld net manlike plante opgelewer). Eers vyf dekades nadat Alexander se bome begin vrugte dra het, het die naam kiwivrug ontstaan.

Dit was danksy die uitvoermaatskappy Turners & Growers wat die Chinese appelliefies wat hulle na Amerika uitgevoer het, kiwivrugte genoem het (na die land se nasionale voël, maar teen daardie tyd is Nieu-Seelanders ook al in die volksmond Kiwi’s genoem).

Die rede daarvoor was dat appelliefies nie juis gewild was nie en hulle wou enige ongunstige konnotasies met die kiwivrugte vermy. Die kiwibedryf dra sowat NS$867 miljoen by tot die bruto binnelandse produk van die Bay of Plenty in Nieu-Seeland en verdien miljoene dollar se buitelandse valuta.

Dit sal na verwagting met 135% groei teen 2030. Die bedryf skep meer as 13 600 werkgeleenthede in Nieu-Seeland. Die groei is danksy nuwe kultivars en uitstekende bemarkingsprogramme.

Navrae: Mnr. Roelof du Toit, e-pos: roelofdt@topfruit.co.za; sel 084 534 4126.


Boer vooruit met ’n Landbou.com-intekening
Teken in op Landbou.com teen R149 per maand en kry toegang tot gehalte-joernalistiek, alle landboutydskrifte, Landbouweekliks-episodes, boeke en baie meer.
Teken in
heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Smalls

Besoek ons nuwe webwerf vir geklassifiseerde advertensies en plaas jou advertensie in LBW én aanlyn. Vind ook vinnig en maklik die produk waarna jy soek!

Sien meer
Rand - Dollar
18.12
-0.1%
Rand - Pond
22.31
-0.0%
Rand - Euro
19.65
-0.1%
Rand - Aus dollar
12.12
-0.1%
Rand - Jen
0.14
-0.3%
Platinum
967.38
+0.8%
Palladium
1,444.13
+1.9%
Goud
1,961.42
-0.2%
Silwer
23.39
+0.3%
Brent-ruolie
78.28
-0.5%
Top-40
70,865
0.0%
Alle aandele
76,480
0.0%
Hulpbronne 10
66,658
0.0%
Industriële 25
103,311
0.0%
Finansiële 15
15,614
0.0%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Besoek ons winkel!

Besoek die LBW-winkel en koop verskillende produkte soos boeke, tydskrifte, klere en meer.

Besoek LBW-winkel
Opsitkers
Opsoek na liefde
Ek is eerlike opreg en weet hoe om ' n dame spesiaaal te laat voel. Ek hou ook van buite lewe en avontuurlustig
Kom ons skryf ons eie roman
Wel ek hou van baie lag, dus vriendelik. Ek is energiek en wil nog die lewe geniet. Hou van stap en soms oefen as tyd dit toelaat. Hou van die buitelewe en natuur. Geniet dit...
Vind jou perfekte maat nou!
Ek is 'n:
Op soek na:
Ouderdomsgroep: tot