
Die projek is begin om ’n verskeidenheid ekostelselvoordele te verkry deur die volhoubare bestuur van grond en veld in landskappe wat produktief is, maar agteruitgegaan het. Dié gebiede is die Nama-Karoo in die Noord-Kaap, die Baviaanskloof in die Oos-Kaap en die opvangsgebied van die Olifantsrivier in Mpumalanga.
Vennote, wat insluit die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) se program vir droëlandbewaring, die Rhodes-universiteit, die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), die Verenigde Nasies en die Departement van Omgewingsake, sal die oorsake van veldagteruitgang ondersoek en die beste maniere vind om veld te herstel.
Volgens me. Bonnie Schumann, senior veldbeampte van die EWT se program vir droëlandbewaring, sal met die projek bepaal word watter faktore volhoubare grond- en veldbestuur bevorder, en ook struikelblokke om dit te bereik, uitwys. Daarna sal deelnemers aan die projekte ’n strategie ontwikkel om klimaatslim maniere vir die bestuur van ekostelsels bevorder.
Omdat die projek in drie verskillende gebiede uitgevoer word, kan uiteenlopende benaderings wat vir verskillende situasies geskik is, ontwikkel en ondersoek word. In die Noord-Kaap sal die EWT se program vir droëlandbewaring die werk doen, terwyl die Rhodes-universiteit en die WNNR die werk in onderskeidelik die Baviaanskloof en die Olifantsrivier-opvanggebied gaan doen.
In die Nama-Karoo sal met die projek probeer word om ’n afname in die agteruitgang van veld en grond en beter ekostelseldienste teweeg te bring. Die Nama-Karoo huisves heelwat ongerepte en diverse natuurlike veld wat hoofsaaklik vir ekstensiewe veeboerdery gebruik word.
Dit is egter noodsaaklik om die agteruitgang van die veld te stuit en bestuurspraktyke te aanvaar wat toenemende onsekerheid oor die klimaat sal teenwerk. Deur volhoubare bestuursmetodes in die gebied in werking te stel, kan landbouproduksie en die bewaring van biodiversiteit verbeter word. Dit kan ook help om mense se bestaan volhoubaar te maak.
*GWK is 'n trotse borg van die program Landbouweekliks, wat Dinsdae om 19:30 op VIA (kanaal 147) uitgesaai word.