Poegaai ná bykans twaalf uur in die saal het Willemien Jooste en Deirdre Griffith vir ses aande aan vreemdelinge se deur geklop met ’n nota waarop daar in Mongools staan wie hulle is en dat hulle slaapplek vir die nag benodig.
“Jy daag daar op in jou vreemde klere met perde en ’n notatjie en die mense gaan uit hul pad om jou tuis te laat voel. Baie keer het hulle van hul kinders of gesinslede na die bure gestuur om vir ons genoeg plek te maak,” vertel Willemien oor stemnotas aan Landbouweekblad vanuit die Mongoolse steppe.
Dit is twee dae nadat sy en Deirdre (uitgespreek “Dedra”) een van die uitmergelendste perde-uithouritte ter wêreld oor 1 000 km binne slegs agt dae kafgedraf het om eerste oor die wenstreep te galop.