Vroeg soggens, net voor en ná sonsopkoms, wanneer die voëlkore weerklink en die wild lekker bedrywig is, is Mitch Reardon, skrywer van Shaping Addo – The story of a South African national park, se gunstelingtyd in die Addo-olifant Nasionale Park.
Natuurlik is dié park, wat strek oor 182 000 ha van die noordelike halfdroë Nama-Karoo, suid oor die Zuurberge en deur die Sondagsriviervallei tot teen die Algoabaai-kuslyn, se bekendste inwoners die sowat 650 olifante.
Maar die park bied inderwaarheid ’n groot verskeidenheid bio- diversiteit – dit is immers die enigste park waar jy die Sewe Grotes (die Vyf Grotes plus die witdoodshaai en die suidelike noorkapper) kan besigtig.